Central SA
Rocklands: Ma van twee maande oue baba aangekeer ná kinderverwaarlosing─── ZENANDE MPAME 12:57 Thu, 05 Oct 2023
“Die baba is vir mediese waarneming na ’n plek van veiligheid geneem.”
’n 28-jarige vrou is Woensdag (4/10) in hegtenis geneem nadat sy haar twee maande oue baba vir ’n week by haar gestremde kêrel gelos het. Sy sal Vrydag (6/10) in die hof verskyn.
“Die Kagisanong-polisie is Woensdag (27/9) na ’n huis in Rocklands in Bloemfontein ontbied ná bewerings van kinderverwaarlosing. Met hul aankoms was die ma nêrens nie, en die baba is by haar kêrel gelos, wat rolstoel-gebonde is,” sê Mahlomola Kareli, polisiewoordvoerder.

Die ma het haar baba by haar gestremde kêrel gelos. Foto: iStock
’n Soektog is onder leiding van sersant Tiisetso Lentsa van die Mangaung-eenheid vir kinderbeskerming en seksuele misdrywe begin. Die ma het eers sewe dae later op Woensdag (4/10) omstreeks 20:50 by die huis aangekom. Sy is weens kinderverwaarlosing in hegtenis geneem.
Die baba is vir mediese waarneming na ’n plek van veiligheid geneem. Dit word nog ondersoek waar sy in die tydperk was.
