Central SA
Ruben brul nog nie, maar pas baie goed in die Vrystaat aan─── KAREN VAN DER BERG 11:39 Fri, 20 Oct 2023
Hulle kry hom dikwels wanneer hy opkyk in die lug en as’t ware die son opsetlik op sy gesig wil voel. Dit is dan wanneer hulle weet, dit gaan regtig uitsonderlik goed met Ruben.
Dit is met vreugde en dankbaarheid wat sy die nuus kan deel, sê Karen Williams, die direkteur van die wildlewe-reservaat naby Winburg, wat aan Animal Defenders International (ADI) behoort
OFM het in Augustus berig van ADI se reddingspoging om Ruben na Suid-Afrika te bring. Hy is tussen 15 en 17 jaar gelede in ’n privaat dieretuin in Armenië (in die westelike dele van Asië) gebore. Die eienaar van die dieretuin is vyf jaar gelede oorlede en die familie wou al die diere uit die dieretuin verwyder.
Daar is plek gevind vir al die ander diere, asook al die leeus behalwe vir Ruben. Hy het die afgelope vyf jaar alleen op die perseel agtergebly. Die eensaamheid was so erg dat Ruben selfs ook opgehou het om te brul.
“Ons is baie tevrede met die vordering wat hy in so ’n kort tydjie gemaak het. Wanneer ons foto’s van hom vir mense wys, dan dink hulle dit is ’n ander leeu,” sê Williams.
Hulle is verstom oor hoe goed hy slaap en die hitte wat hy so geniet. “’n Mens kan die verandering in sy gesig sien.”

Ruben is nie meer so stil soos toe hy in Suid-Afrika aangekom het nie. Foto verskaf
Williams sê een van die gereelde vrae wat hulle kry, is of Ruben al begin brul het.
“Hy wend beslis pogings aan en dit kom sagter uit. Maar hy kommunikeer wel met ons. Veral as ons net ’n bietjie laat is met sy kos. Ons probeer ’n verhouding met hom opbou en dit is eintlik wonderlik dat hy ons vertou omdat mense hom so sleg behandel het. Hy is beslis nie so stil soos toe hy hier aangekom het nie.”
Die veearts het hom onlangs besoek en is ook baie tevrede met sy toestand.
“Hy loop nog nie heeltemal reg nie en ons weet dit sal nooit herstel nie. Ons probeer in ons versorging by hom aanpas. Ons dink ook sy sig het verbeter.”
Leeu in aanhouding vind ná jare tuiste in die Vrystaat
Sy sê Ruben is ’n groot held en het klomp aanhangers oor die wêreld heen. “Hy kry baie speelgoed as geskenke want hy is baie lief om daarmee te speel. Ons is baie dankbaar vir die hulp en ondersteuning wat ons kry om hom te versorg en sy lewe makliker te maak.”
Daar is ongelukkig nog baie hartseer stories van ander leeus oor die wêreld heen wat ook gered moet word. Enigiemand wat enige bydrae wil lewer, kan die ADI kontak.
