Click on the warning image to view this post
Central SA
Vrystaatse man lewenslank gevonnis ná sy ma se wrede moord─── LUCKY NKUYANE 07:44 Sat, 21 Oct 2023
Hy het hul seun in die motorhuis aangetref waar hy na bewering die liggaamsdele van sy oorlede ma in plastiek verpak het.
’n Vrystater (31), wat sy ma (65) wreed vermoor en sy pa in Junie 2022 in Qwaqwa gesteek het, sal nou lewenslange tronkstraf uitdien. Teboho Mokoena is onlangs deur 'n hooggeregshofregter, Josephe Mhlambi, met dié swaar vonnis gestraf. Mokoena is daarvan aangekla dat hy sy ma, Modiehi Khodumo, vermoor en haar lyk in Junie verlede jaar opgesaag het.
Phaladi Shuping, NVG-woordvoerder, het gesê regter Mhlambi het Mokoena ook vyf jaar tronkstraf opgelê omdat hy sy pa, Motsumi Mokoena, aangeval het. Teboho het sy pa verskeie kere met 'n mes aangeval toe sy pa hom probeer aanspreek het. Hy is ’n verdere 12 maande tronkstraf opgelê vir opsetlike saakbeskadiging.
OFM Nuus het vroeër berig die beskuldigde se pa, die eks-man van Khodumo, het by haar huis na haar kom soek, toe hy hul seun in hul motorhuis aangetref het waar hy na bewering die liggaamsdele van sy oorlede ma in plastiek verpak het.
Toe sy pa hom konfronteer, het hy hom in sy bors gesteek. Sy pa is na die Bloemfontein-gebaseerde Pelonomi-hospitaal oorgeplaas vir verdere mediese sorg.
“Mokoena het op 7 Junie 2022 na die oorledene se huis gegaan om na haar te soek en die beskuldigde in die motorhuis aangetref waar hy die oorskot van sy ma in ’n plastieksak pak. Toe hy navraag wou doen oor wat besig was om te gebeur, het die beskuldigde hom verskeie kere gesteek.”
Die polisie is na die huis ontbied, en hulle het 'n grusame ontdekking gemaak toe hulle 'n slypmasjien sowel as menslike oorskot in die motorhuis gevind het wat in stukke opgesny is. Die oorledene is tussen 5 en 7 Junie 2022 vermoor,” het Shuping gesê.
Die beskuldigde het glo ’n onstuimige verhouding met sy ouers gehad weens sy beweerde dwelmgebruik en omdat hy gedurig geld geëis het.
Tydens sy vonnisoplegging is ’n slagoffer-impakverklaring gedoen deur die staatsaanklaer, advokaat (adv.) Nono Mkhabela, wat drie slagoffer-impakverklarings aan die hof voorgelê het. Die staatsbewyse was van die dogter, broer en eksman van die oorledene.
“Die dogter het verklaar dat sy nie op universiteit kon presteer nie en 'n semester moes herhaal weens die voorval. Die eksman het gesê dat sy seun die mees onskuldige siel weggeneem het wat nie net ’n steunpilaar vir die familie was nie, maar vir die gemeenskap,” het Phaladi bygevoeg.

