Central SA
Nóg ’n egpaar van Potch verloor alles in ’n brand─── KAREN VAN DER BERG 15:34 Thu, 26 Oct 2023
’n Brand in Potchefstroom het nóg ’n egpaar se huis in puin gelê. Al wat hulle oorhet, is ’n paar items wat in die motorhuis gestoor was.
Jacobus (28) en Nedine (28) Vermaak was in Augustus ’n jaar getroud. Hul meentuis in Hattinghstraat, Bailiepark, het Dinsdag (25/10) heeltemal afgebrand.
Anné van Onselen, DA-wyksraadlid wat die egpaar bystaan, sê dit is nog nie bekend hoe die brand begin het. “Dit het beslis in die vrykamer begin en daar word vermoed die oorsaak kan wees ’n laaier wat of oorverhit of moontlik ontplof het."
Van Onselen sê die brand net ná 07:30 begin. Die hoof van die brandweer en die operasionele hoof was albei op die toneel. Die brandweer het baie vinnig gereageer.
Jacobus het self probeer om die brand te blus en so blase en brandwonde aan sy hande opgedoen. So nie is hy en sy vrou ongedeerd. “Hulle is wel baie hartseer. Om deur so iets te gaan is baie traumaties en hartverskeurend,” vertel Van Onselen.

Die brandweerhoof en die operasionele hoof was albei op die toneel. Foto verskaf
Van Onselen sê die voorval het eens bewys hoe die gemeenskap van Potchefstroom hande kan vat en saamstaan. “Daar is soveel hulp en ondersteuning vir die Vermaaks. Die mense het ingespring en op elke moontlike manier gehelp.”
Intussen het hulle ’n nuwe huurhuis gekry en die eienaar is so gaaf om hulle eers oor twee maande weer huur te vra. “Hulle waardeer die hulp en het onderneem om ook weer van die items vir ander gesinne te gee wat ook onlangs deur huisbrande geraak is.”

Die Vermaak-egpaar se huis in Potchefstroom is heeltemal verwoes. Foto verskaf
Nedine het aan OFM Nuus gesê hulle waardeer al die hulp wat hulle kry. “Al die mense is so goed vir ons.”
• OFM het vroeër berig van nog ’n gesin van Potchefstroom Willem en Marie van der Merwe en hulle kinders, Jaco en Klara, wie se huis in Kockstraat op 21 September afgebrand het.
Daar was Donderdag (26/10) nog ’n huisbrand, op die hoek van Chis Hani- en Rivierstraat, ook in Potchefstroom. Meer inligting daaroor is nog nie bekend nie.
