Central SA
Onkoloë vier 55 jaar se sukses met borskankerbewustheid in Bloemfontein─── KEKELETSO MOSEBETSI 14:48 Fri, 27 Oct 2023

“Vanoggend se byeenkoms van die onkologie-afdeling was om die lewe te vier en soos julle weet is Oktober borskankerbewustheidsmaand en almal dra pienk.”
Die onkologie-afdeling in die Vrystaat het Vrydag (27/10) 55 jaar van toegewyde diens vir borskankerbewustheid gevier. Die personeel het ’n simboliese geleentheid gehou en die Nasionale Hospitaal in Bloemfontein binne gestap waar die Onkologie-afdeling van die Universitas Akademiese Hospitaal geleë is.
“Vanoggend se byeenkoms van die onkologie-afdeling was om die lewe te vier en soos julle weet is Oktober borskankerbewustheidsmaand en almal dra pienk. Ons vier die lewe soos dit is maar ons vier ook die pasiënte wat ons behandel. Ons eer diegene wat oorleef het, maar dink ook terug aan die wat nie oorleef het nie. Ons wil vasklou aan hoop want dit is wat oorlewing skep, sê prof. Alicia Sherriff, onkologie-hoof van die kliniese departement in die Vrystaat.
Mondli Mvambi, Vrystaatse gesondheidswoordvoerder, sê borskankerbewustheid is ’n geleentheid wat jaarliks gehou word. Hy sê ’n tema word gekies om spesifieke dele van gesondheidsorg en kliniese ingrypings uit te lig. Vanjaar se tema is “Niemand moet borskanker alleen hanteer nie”.
Dit dien ook as ’n herinnering vir gesondheidsverskaffers om maniere te oorweeg hoe hulle saam met die pasiënte en families kan werk in die voorkoming, opsporing en behandeling van borskanker. Sherriff sê hulle wil in die toekoms in die ander maande ook bewustheid vir ander kankersoorte skep. Dit sal help om die gevaartekens en simptome vroeër op te merk.