Central SA
Ilya (5) van Kroonstad se beenmurg is skoon─── HEIDRÈ MALGAS 15:52 Fri, 24 Nov 2023
“Sy is maar steeds 'n siek dogtertjie wat glad nie baie lekker voel nie.”
’n Moedige jong meisie van Kroonstad by wie leukemie gediagnoseer is, se kanker is in remissie en haar beenmurg is skoon.
Hulle het aan Ilya (5) verduidelik dit wat haar siek gemaak het, is nou weg, sê haar ma, Zuna-Marie van den Berg, maar haar lyfie moet nog sterk word. Daarom is dit nodig vir haar om aan te gaan met die behandeling.
“Sy is maar steeds 'n siek dogtertjie, wat glad nie baie lekker voel nie, so dit is moeilik vir haar om te verstaan.”
Hulle is so dankbaar, en hulle prys die Here vir Sy genesende hand oor Ilya, sê haar ma. Dit is maar nog 'n lang pad vorentoe en hulle bly bid dat sy minimaal newe-effekte van die chemo sal hê, dat sy gesond sal bly en gou weer sterk sal word.
“Almal is dankbaar en verheug saam met ons in hoe groot en getrou God is,” sê Van den Berg. “Hulle bly ons ondersteun en bemoedig vir die pad wat voorlê.”
Sy beskryf prof. Jannie Du Plessis, ’n pediatriese onkoloog, as “’n wonderlike dokter en mens”, nie net is Ilya in die beste hande medies gesproke nie, maar sy benadering spreek voorwaar van sy omgee hart vir sy pasiënte. Hy het altyd tyd vir ons om te gesels of te verduidelik, ons waardeer dit regtig.
Ilya se protokol behels intense chemo vir minstens nog vyf maande en daarna maandeliks vir twee jaar om seker te maak dat die kanker in remissie bly.
