Central SA
2 ondernemings in Ottosdal van geld beroof─── 10:37 Mon, 08 Jan 2024
“Die voorval was soos dié in ’n fliek, wat selfs verkeersontwrigtings veroorsaak het, en dat mense uit vrees vir hul lewe moes weghardloop.”
Twee winkels is na bewering Saterdagmiddag op Ottosdal in Noordwes van ’n onbekende bedrag geld beroof deur ’n groep mans met ’n vuurwapen. Hulle het glo verwoesting tydens die voorval gesaai.
Inwoners en kopers wat in die middedorp was, beweer hulle is gedwing om skuiling te soek terwyl skote afgevuur is tydens die rooftog by 'n drank- en kruidenierswinkel. Niemand is in die voorval beseer nie.
OFM Nuus verneem toe die polisie opdaag, het die rowers te voet gevlug in die rigting van die township. Daar word ontken dat daar ’n skietery tussen die rowers en die polisie was.
Sabata Mokgwabone, Noordwes-polisiewoordvoerder, ontken geweerskote is afgevuur en sê niemand is in hegtenis geneem nie. Hy het aan OFM Nuus bevestig dat hulle 'n saak van sakeroof ondersoek.

’n Inwoner, wat aan OFM Nuus bekend is, sê die voorval was soos dié in fliek, wat selfs verkeersontwrigtings veroorsaak het, en dat mense uit vrees vir hul lewe moes weghardloop.
“Ons bevestig dat ’n onbekende bedrag geld gesteel is, maar geen beserings is aangemeld nie,” sê Mokgwabone.
’n Polisievoertuig is later die aand in Letsopa gesien waar hulle na die verdagtes gesoek het. Die twee ondernemings word deur Chinese besit en hulle dryf weer handel soos gewoonlik.
OFM Nuus het in April berig oor ’n kitsbankontploffing op Ottosdal. Geen verdagtes is in daardie voorval in hegtenis geneem nie, maande voordat nog ’n drankwinkel in die gebied van kontant beroof is.
Inwoners in Letsopa naby Ottosdal eis meer sigbare polisiëring om misdaad te bestry.
OFM Nuus/Joba Matsheng cg/dg/mc
