Central SA
Upington: Moordsaak van 14-jarige uitgestel tot Februarie─── HEIDRÈ MALGAS 11:26 Thu, 25 Jan 2024
“Sikepe het ook brandwonde aan sy hande gehad, maar het beweer hy het dit opgedoen omdat hy Theo probeer help het.”
Die saak teen drie mans van Paballelo, Upington, wat aangekla word van die wrede moord op ’n tienerseun, is tot 20 Februarie uitgestel vir instruksies van die Direkteur van Openbare Vervolging aangaande die verhoorforum.
Volgens Mojalefa Senokoatsane, NVG-woordvoerder, is al drie beskuldigdes in aanhouding aangesien hulle borgtogaansoek onsuksesvol was.
Die drie word aangekla van die moord en ontvoering van Cashwin Theo Diteho (14). OFM Nuus het vroeër berig die beskuldigdes het na bewering op 1 Augustus by Diteho se huis aangekom en geëis dat hy dagga teruggee wat hy glo gesteel het.
Die seun het eers ontken hy het die dagga gesteel, maar Sikepe het glo gedreig om hom en sy vriende dood te maak omdat hy sy dagga gevat het.
Deon Diteho, Theo se oom en die familiewoordvoerder, sê een van die beskuldiges, Elvis Sikepe (38), is ’n familievriend. Theo het hom ‘Boetie’ genoem. Hy beskryf Theo as ’n lewenslustige kind, gehoorsaam en met ’n stoute glimlag.

Deon Diteho, familiewoordvoerder en Theo se oom. Foto: Heidrè Malgas
Volgens Diteho het Sikepe beweer dat Theo homself gebrand het en dat die familie hospitaal toe moet gaan. Sikepe het ook brandwonde aan sy hande gehad, maar het beweer hy het dit opgedoen omdat hy Theo probeer help het.

