Central SA
Liggaam van onbekende vier maande later in Kimberley uitgeken─── ZENANDE MPAME 08:49 Sat, 23 Mar 2024

“Die liggaam is deur sy familie uitgeken.”
Die polisie in Kimberley het Vrydag (22/3) die publiek ingelig dat die liggaam van ’n man wat in November 2023 aan ’n boom in die veld langs Barklyweg, Bloemanda, gevind is, uiteindelik deur sy familie uitgeken is.
“Die Galeshewe-polisie wil die publiek inlig dat die liggaam van die onbekende man wat in die veld gevind is, positief deur sy familie geïdentifiseer is,” het Timothy Sam, Noord-Kaapse polisiewoordvoerder, gesê.
“Die SAPD wil die media bedank vir die berigte wat die familie oor die oorledene ingelig het.”
Die polisie het op 19 Desember ’n verklaring uitgereik waarin hulle ’n beroep op die publiek gedoen het om te help om die ongeïdentifiseerde man se familie te vind.
Daar is in Desember 2023 en Januarie 2024 verklarings uitgereik waarin die publiek versoek is om te help om die familielede van die onbekende man op te spoor.
“Die liggaam is positief uitgeken en aan die familie oorhandig.”