On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Fietsryer van Klerksdorp kraai koning ná aanval

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:47 Tue, 30 Apr 2024

Fietsryer van Klerksdorp kraai koning ná aanval | News Article
Jaco van Dyk. Foto verskaf

“Die kompetisie, bekend vir sy uitdagende terrein wat grond- sowel as teerpaaie insluit, het die legendariese Swartbergpas ingesluit.”

Net twee weke gelede het ’n toegewyde fietsryer van Klerksdorp ’n noue ontkoming gehad met vier aanvallers terwyl hy vir ’n fietsrykompetisie geoefen het.

Nou bevind Jaco van Dyk (30) homself op die podium as die kampioen van daardie einste kompetisie.

Saterdag (27/4) het Van Dyk aan die 170 km Grondpad-UCI-byeenkoms by Prins Albert in die Groot-Karoo deelgeneem en uit ongeveer 500 deelnemers met ’n indrukwekkende tyd van 05:43:01 sy plek as die kampioen verseker. Van Dyk spog nie net met die gesogte titel nie, maar verdien ook ’n plek in die wêreldkampioenskap wat op 6 Oktober in België plaasvind.

Die legendariese Swartbergpas is by die kompetisie ingesluit. Foto verskaf

Die kompetisie, bekend vir sy uitdagende terrein wat grond- sowel as teerpaaie insluit, het die legendariese Swartbergpas ingesluit. Dié pas tussen Oudtshoorn en Prins Albert vereis krag én vaardigheid om sy op- en afdraandes te oorwin.

Van Dyk vertel dit was maande se voorbereiding wat tot die wedren gelei het. “My opleidingsprogram het al in Desember begin, met streng sessies wat gemiddeld 21 uur per week was en ongeveer 500-550 km beslaan het.”

Van Dyk, ’n gesoute mededinger wat minstens drie naweke per maand aan kompetisies deelneem, het vanjaar reeds elf wedrenne gery. Sy volgende is die Nasionale Grondpadkampioenskap middel Mei.

Sy liefde vir fietsry kom reeds vanaf sy kinderdae nadat hy net vir die pret saam met sy tannie, Adri Viljoen, begin ry het en toe besef het hy het ’n liefde vir dié sport.

Jaco van Dyk het vanjaar reeds elf wedrenne gery. Foto verskaf

“Op skool was ek ’n langafstandatleet, maar ek het my liefde vir hardloop so bietjie verloor op die ouderdom van 14 en spansport begin speel.”

Twee jaar lank het hy nie ernstig fiets gery nie, maar in 2014 het die fietsrygogga hom gebyt. Ná slegs ’n jaar se deelname aan dié sport was hy in 2015 deel van die eerste span van die Westvaal BMC-klub en van daar af ry hy professioneel.

Ná nege jaar op die fiets is hy deel van een van die Team Honeycomb Pro Cycling, een van die grootste spanne in Suid-Afrika.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.