Central SA
Noordwes-polisielid, medepligtige in hof oor beweerde veediefstal─── CHARNÉ VAN DER MERWE 08:50 Sun, 12 May 2024
“Die kalwers se eienaar is intussen opgespoor en die polisie het beslag op die voertuig en sleepwa gelê.”
’n Polisiebeampte van Bloemhof in Noordwes en nog ’n medepligtige, wat na bewering met gesteelde vee gevang is, moet weer op 15 Mei in die hof verskyn vir ’n formele borgtogaansoek.
Die beskuldiges, ao. Onkokame Shoboro (46), en Motseothata Ndlovu (25), het Woensdag (8/5) in die landdroshof verskyn nadat hulle glo vroeër die week met gesteelde beeste gevang is. “Die polisie het op inligting gereageer dat die verdagtes glo besig is om vee te vervoer,” sê brig. Sabata Mokgwabone, polisiewoordvoerder.
Shoboro is aan die Bloemhof-polisie se eenheid vir sigbare polisiëring verbonde.

Met hul inhegtenisneming het die polisie nege Bonsmara-kalwers ter waarde van R80 000 in hul besit gekry. “Hierdie kalwers is op ’n sleepwa gelaai en met ’n Ford Ranger-dubbelkajuitbakkie vervoer.”
Mokgwabone sê die aangeleentheid is na die provinsiale teenkorrupsie-ondersoekeenheid gestuur vir ‘n deeglike ondersoek waarna die verdagtes formeel aangekla is ná die ondersoek.
Die verdagtes sal in aanhouding bly tot hul volgende hofverskyning waar hulle sal aansoek doen vir borgtog. “Die kalwers se eienaar is intussen opgespoor en die polisie het beslag op die voertuig en sleepwa gelê.”

Daar is geen versagting vir polisielede wat by misdaad betrokke is nie, het die polisiekommissaris gesê. Foto: X
Lt.genl. Sello Kwena, provinsiale polisiekommissaris, sê daar is geen versagting vir polisielede wat by misdaad betrokke is nie. “Dieselfde strafmaatreëls geld ook vir hulle.”
’n Vermeende veedief, Wiltrus Boshoff, het homself glo Sondag (5/5) in die kop geskiet. ’n Werker het op hom afgekom.
Boshoff is in 2022 saam met ses ander beskuldigdes in hegtenis geneem en het op aanklagte van diefstal in die Molope-landdroshof in Mmabatho verskyn. Boshoff is saam met die broers Bert (49) en Simon Wessel (47) van veediefstal aangekla, asook ’n laerskoolvriend van die Wessel-broers, Stephan Wallis (47), ’n vriendin van hulle, Janine Hill (50), en twee werkers, Ntlhothana Motswabangwe (33) en Rapula Letsapa (25).
Die verdagtes het borgtog van tussen R3 000 en R12 000 gekry en is onder huisarres geplaas.
Die saak teen die ander beskuldigdes, wat steeds voortgaan, is tot volgende maand uitgestel.
Die boere in die Ottoshoop- en Lichtenburg-omgewing het die afgelope 30 maande ’n stryd teen veediewe gevoer wat al miljoene rande se vee gesteel het, bevestig Mokgwabone. Die laaste paar maande is meer privaat ondersoekers vir veediefstal opgelei.

