Central SA
Beswaar teen munisipale bestuurder se R700 000-verhoging─── CHARNÉ VAN DER MERWE 11:40 Thu, 16 May 2024

“Boonop kan hierdie munisipaliteit nie eens aan die vereiste voldoen om dienste te lewer nie, soos deur die wet uiteengesit.”
’n Brief is aan Mangaung se burgemeester gerig oor die buitensporige salarisverhoging wat toegeken is aan die nuwe munisipale bestuurder.
In die brief aan Gregory Nthatisi maak AfriForum beswaar teen die R700 000-salarisverhoging aan Sello More, munisipale bestuurder van Mangaung-metro.
“Dit bring die munisipale bestuurder se (jaarlikse) vergoedingspakket op net meer as R2,45 miljoen te staan. Hierdie nuwe verhoging is ook terugwerkend tot November 2023, toe More aangestel is,” sê Jaco Grobbelaar, AfriForum se hoof vir die sentraalstreek.
Die besluit is op ’n spesiale raadsvergadering goedgekeur.
Meer as 650 Mangaung-belastingbetalers het reeds aansoek gedoen om op te hou betaal vir die vullisverwyderingsdiens wat nie gelewer word nie. Hulle verkies om liewer ’n privaat diensverskaffer te gebruik, het Christo Groenewald, AfriForum-distrikskoördineerder, gesê. “Die voortslepende uitdagings met vullisverwydering en die bestuur van hierdie diens deur die Mangaung Metropolitaanse Munisipaliteit het AfriForum gedwing om in te gryp.”
Die ruim verhoging vir die munisipale bestuurder, wat nou net R140 000 per jaar minder as ’n kabinetsminister verdien, is ook teenstrydig aangesien die Mangaung-metro onder administrasie geplaas is, wat beteken dat die metro bankrot is, sê Grobbelaar. “Boonop kan hierdie munisipaliteit nie eens aan die vereiste voldoen om dienste te lewer nie, soos deur die wet uiteengesit.”
In die brief versoek AfriForum dat hierdie besluit hersien en teruggetrek moet word. “Hierdie besluit is nie in die beste belang van die gemeenskap nie,” meen Grobbelaar. “Sello More en sy korrupte amptenare is besig om hulself met die gemeenskap se geld te verryk.
“Dienslewering in Bloemfontein is nie op standaard nie, en baie mense sit steeds sonder lopende water of behuising, maar hy steek die gemeenskap se geld in sy sak. Ons voel dat die verhoging glad nie regverdig is nie; daarom vra ons die raad om die besluit te hersien en die verhoging terug te trek.”
Hy sê die munisipale bestuurder is op die hoogste salarisskaal geplaas wat ’n munisipale bestuurder van ’n kategorie 7-munisipaliteit mag verdien. “Dit is heeltemal onvanpas dat die persoon ’n verhoging kry terwyl iets so eenvoudig soos vullisverwydering nie eers op ’n daaglikse basis plaasvind nie of terwyl slaggate nie herstel word nie – dit is nog die minste van die stad se uitdagings met dienslewering.
“Die amp munisipale bestuurder is ’n aanstelling wat deur gemeenskapslede se belasting befonds word en daarom is dit sy plig om die gemeenskap te dien. Nou is hy besig om sy sakke vol geld te steek – geld wat eintlik gebruik moet word om Bloemfontein in stand te hou.”
AfriForum het die burgemeester tot Dinsdag (21/5) gegee om op die brief te reageer en die formele raadsbesluit aan hom te stuur waar daar gemeld word dat die verhoging goedgekeur is. Indien geen terugvoer op hierdie datum ontvang is nie, sal AfriForum alle ander middele tot sy beskikking gebruik om die besluit teen te staan, insluitend regstappe oorweeg.