Central SA
#GBV: Trompsburg-man slaan na bewering sy vrou dood─── KEKELETSO MOSEBETSI 10:47 Mon, 03 Jun 2024
“Wanneer ’n man nie met sy wederhelf kan redeneer of tot ’n gevolgtrekking kan kom nie, dink hy die enigste manier om die kwessie op te los, is deur geweld, want dit is wat die samelewing ons geleer het.”
Vrystaatse polisie ondersoek ’n moordsaak nadat ’n man (36) na bewering sy vrou (35) in Madikgetla, Trompsburg, doodgeslaan het.
Saterdag (1/6) omstreeks 18:20 is Trompsburg se polisie na ’n huis in Madikgetla ontbied op aanklag van ’n aanranding, sê Mahlomola Kareli, Vrystaatse polisiewoordvoerder. Met hul aankoms op die toneel het wetstoepassers mediese beamptes aangetref wat besig was met ’n vroueslagoffer wat op ’n bed gelê het. Hulle het haar daar dood verklaar.
Die voorlopige ondersoek het aan die lig gebring dat mense gesien het hoe die egpaar stry voor die polisie en paramedici ontbied is. Die oorledene het ’n geswelde gesig gehad en het gebloei. Die polisie ondersoek nog waaroor die egpaar baklei het, sê Kareli.
Die slagoffer se man is in hegtenis geneem en word van moord aangekla. Hy sal binnekort in hof verskyn.
Die Vrystaat se premier, Mxolisi Dukwana, het verlede jaar kommer uitgespreek oor die plaag van geslagsgeweld, ontvoering en moord op vroue en kinders in die provinsie. Hy het daarna verwys as ’n donker skadu wat ernstige aandag verg.
“Ons beveg geslagsgeweld. Ons beveg al hierdie dinge. Ons beveg korrupsie. Ons dra die boodskap oor dat die enigste manier om ’n probleem op te los, deur baklei is. Wanneer ons iets het wat ons nie kan oorkom nie, wend ons ons tot geweld,” het hy gesê.
‘In die Vrystaat moet ons kyk na wat ons wil bou’
“Wanneer ’n man nie met sy wederhelf kan redeneer of tot ’n gevolgtrekking kan kom nie, dink hy al manier om die kwessie op te los, is deur geweld, want dit is wat die samelewing ons geleer het.
“In die Vrystaat mag ons nooit oor baklei praat nie, ons moet kyk na wat ons wil bou. In plaas daarvan om teen geslagsgeweld te wil veg, moet ons glo dat ons in ’n proses is, ’n reis om ’n misdaadvrye samelewing te bou.”
Twee weke gelede het die polisie berig dat Thato Tumahole se kêrel ses dae ná haar verdwyning in Welkom in hegtenis geneem is. Gerugte het op sosiale media die rondte gedoen dat Tumahole oorlede is.
Menslike oorskot is in een van die mynskagte ontdek en vir forensiese ondersoeke gestuur om vas te stel of dit dié van ’n vermiste matriekleerling is.


