Central SA
Verdagtes met uniforms, dwelms in Gordonia aangekeer─── 06:32 Mon, 10 Jun 2024
“Inligting is ingesamel tydens Operasie Vala Umgodi – om onwettige mynbedrywighede te beveg – oor beweerde dwelmhandel.”
Die polisie het die naweek tydens ’n operasie in Gordonia in die Noord-Kaap dwelmhandel beveg. Drie mans is in hegtenis geneem. Benewens die dwelms was hulle na bewering ook in besit van weermaguniforms.
Inligting is ingesamel tydens Operasie Vala Umgodi – om onwettige mynbedrywighede te beveg – oor beweerde dwelmhandel in Boitshoko, Postdene, Maranteng, Newtown, Greenfield en Carnation in Postmasburg.

Weermaguniforms is gekonfiskeer. Foto verskaf
Die polisie se span het Saterdag (8/6) in die vroeë oggendure toegeslaan en drie verdagtes tussen die ouderdomme van 24 en 36 jaar oud in hegtenis geneem weens die beweerde besit van dwelms. ’n Vierde verdagte (40) is ook weens die beweerde besit van gesteelde eiendom, naamlik weermaguniforms, asook die dwelms aangekeer.
Polisiewoordvoerder Molefi Shemane sê daar is verder beslag gelê op kontant wat vermoedelik die opbrengs van misdaad is. Die uniforms is gekonfiskeer.

Die Noord-Kaapse polisie het vier verdagtes met onder meer dwelms aangekeer. Foto verskaf
Die verdagtes sal binnekort in die hof verskyn.
Operasie Vala Umgodi gaan voort om onwettige mynboubedrywighede en verwante misdaad dwarsoor die provinsie te bekamp.
Enkele dae tevore is drie vermeende rowers op die Oos-Rand met polisie-uniforms vasgetrek. “Hulle het na bewering ’n motoris op die N3 beroof nadat hulle hom met blou ligte en ’n sirene van die pad afgetrek het.”
Die Ekurhuleni-metropolisie het die drie vermeende rowers in Bedfordview in hegtenis geneem nadat hulle hulle as polisiebeamptes voorgedoen het. Die mans, tussen 29 en 50 jaar oud, is met polisie-uniforms, -toerusting en vuurwapens betrap.
Hulle het na bewering ’n motoris op die N3 beroof nadat hulle hom met blou ligte en ’n sirene van die pad afgetrek het. Die slagoffer is van R10 000 kontant, amptelike dokumente, motorsleutels en sy gelisensieerde vuurwapen beroof.
Kelebogile Thepa, EMPD-woordvoerder, sê die verdagtes is in Birch Acres, Kempton Park, en Tembisa vasgetrek met verskeie vuurwapens, ’n draagbare blou lig met sirene, kontant, twee slimfone, ses pette met polisiehandelsmerke en drie vuurwapenholsters in hul Ford Ranger King-kajuit.

In dieselfde trant as die SANW se streng benadering tot die ongemagtigde gebruik van sy uniforms, het die SAPD lede van die publiek gewaarsku teen die ongemagtigde en onwettige gebruik van polisie-eiendom.
Dit geld uniforms, toerusting, embleme en enige ongemagtigde gebruik van polisie-eiendom, wat volgens die polisie ’n direkte oortreding is van die SAPD-wet.
OFM Nuus cg

