On Now
Weekdays 05:00 - 06:00
The Agri Hour Gerben
NEXT: 06:00 - 09:00 The Good Morning Breakfast with Shandor, Margaret and John
Listen Live Streams

Central SA

Geldnood ná noodlottige ongeluk op Vanderbijlpark

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:38 Tue, 25 Jun 2024

Geldnood ná noodlottige ongeluk op Vanderbijlpark | News Article
Schalk en André Gerryts. Foto: Facebook

“Sy moet dringend geopereer word, maar die geld ontbreek.”

Die oorlewende slagoffer van ’n ongeluk op Vanderbijlpark, wat ’n jong man se lewe geëis het, kort dringend geldelike hulp vir haar mediese behandeling.

André Gerryts (23) en Louisa de Coning (39) was Dinsdag 19 Junie op pad werk toe op Gerryts se motorfiets toe die ongeluk plaasgevind het.

Gerryts is van die motorfiets afgeslinger en is op slag dood. De Coning is met ’n gebreekte been in ’n staatshospitaal opgeneem en moet dringend ’n operasie ondergaan.

Volgens Fanie de Jongh, eienaar van The Palms-winkelsentrum, is De Coning, ’n ma van vier, die broodwinner in die gesin en daar is tans baie onvoorsiene uitgawes.

Sy moet dringend geopereer word, maar die geld ontbreek. “ ’n Paar mense het ingespring om geld by mekaar te probeer kry vir die operasie asook ná die operasie wanneer sy gaan moet aansterk by die huis terwyl sy geen inkomste verdien nie. Sy gaan ook behandeling soos fisioterapie nodig hê.”

Die verkeerslig waar die ongeluk plaasgevind het, is op ’n kruising naby The Palms-winkelsentrum en De Jongh sê die munisipaliteit is al menigmale gevra om aandag te gee aan die verkeersligte wat die meeste van die tyd onklaar is of flits.

Gerryts en De Coning, wat in dieselfde woonstelkompleks woon, het daagliks saam werk toe gery na Blissful Baking op Vanderbijlpark. Gerryts was ’n barista by die bakkery, terwyl De Coning kos en lekkergoed maak.


Volgens Hendrik Ebertsohn, die bakkery se eienaar, het die ongeluk tussen 06:40 en 06:45 op die kruising van Barrageweg en Louis Trichardtboulevard gebeur.

“’n Ooggetuie het vir my gesê dat Gerryts by ’n rooi verkeerslig gewag het. Toe dit groen word, het hy gery. ’n Vragmotor, waarvan die bestuurder glo oor die rooi lig gery het, het teen Gerryts en De Coning gebots.”


Alle donasies kan in die Vanderbijl Community Support Group (’n geregistreerde organisasie sonder winsoogmerk) se rekening inbetaal word.

De Jongh gee die versekering elke sent wat geskenk word, net so vir Louisa se herstel of Gerryts se begrafnisonkoste gebruik sal word.

OFM Nuus/Charne van der Merwe

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.