On Now
Weekdays 22:00 - 23:59
Overnight OFM
Show Background
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

Central SA

Sakeman, rekenmeester van Bloemfontein pleeg glo miljoen se bedrog

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:16 Mon, 15 Jul 2024

Sakeman, rekenmeester van Bloemfontein pleeg glo miljoen se bedrog | News Article
Eguleme Dee Ebeye. Foto verskaf

“Ná ’n voorlopige ondersoek deur die SAID is die twee se beweerde bedrieglike aktiwiteite ontdek.”

’n Sakeman van Bloemfontein en sy rekenmeester moet weer op 2 Augustus in die hof verskyn vir bedrog.

Die sakeman en die Nigeriese rekenmeester word daarvan beskuldig dat hulle Jan Taks tussen 2018 en 2020 uit meer as R1 miljoen bedrieg het, sê kapt. Christopher Singo, Vrystaatse Valke-woordvoerder.

Molefi Nephthali Tloome (49), eienaar van PPK Engineering & Construction, en Eguleme Dee Ebeye (53) het Donderdag (11/7) op aanklagte van die oortreding van die Wet op Belastingadministrasie in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn nadat hulle na bewering bedrieglike belastingopgawes ingedien het.

‘Die SAID het ’n totale verlies van meer as R1,2 miljoen gely’

Hulle is op borgtog van onderskeidelik R2 500 en R1 500 vrygelaat.

“Ná ’n voorlopige ondersoek deur die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) is die twee se beweerde bedrieglike aktiwiteite ontdek,” sê Singo. “’n Ondersoeker het vasgestel hulle het vervalste 201-opgawes vir BTW ingedien.”

Weens die bedrieglike aktiwiteite het die SAID ’n totale verlies van meer as R1,2 miljoen gely.

Molefi Nephthali Tloome. Foto verskaf

’n Vrystaatse tenderpreneur, Tebang Motaung, is op 30 November 2023 deur die Bloemfonteinse landdroshof skuldig bevind aan belastingontduiking van R757 069. As boete moet hy die Inkomstediens maandeliks in paaiemente terugbetaal, het Fikiswa Matoti, Valke-woordvoerder, destyds gesê.

Motaung, seun van die Bloemfonteinse radiopersoonlikheid Thuso Motaung, se probleme het glo begin toe sy maatskappy, Newtongate, in 2020 miljoene ontvang het ná ’n suksesvolle Covid-19-tenderproses om persoonlike beskermende toerusting aan die Vrystaatse regering te verskaf.

Motaung het aan die einde van daardie belastingjaar ’n nulopgawe ingedien asof Newtongate geen inkomste verdien het nie, maar dit het aan die lig gekom sy inkomste was inderwaarheid R6,4 miljoen.

“Die SAID het die onreëlmatigheid opgespoor en met ’n interne ondersoek begin. Dit het aan die lig gebring dat Newtongate inkomste verkry en uitgawes aangegaan het, maar ’n nulopgawe ingedien het. So is die SAID benadeel en het ’n totale verlies van R757 068,94 gely,” het Matoti gesê.

OFM Nuus het ook vroeër berig dat altesame drie tenderkontrakte aan Newtongate toegeken is.

Die maatskappy is met R1 miljoen beboet, opgeskort vir vyf jaar op voorwaarde dat die maatskappy nie gedurende dié tydperk aan bedrog skuldig bevind word nie. Volgens Matoti is Motaung gelas om R756 259,55 in paaiemente terug te betaal, naamlik R60 000 vóór of op 31 Maart en daarna maandeliks R32 000.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.