Central SA
Egpaar wil Potchefstroomse hondeaanval van rol laat skrap─── ZENANDE MPAME 14:00 Wed, 31 Jul 2024
“Die Mosterts word aangekla van nalatigheid kragtens die Dierebeskermingswet.”
Die saak van die egpaar van Potchefstroom wie se drie Amerikaanse veghonde hul huiswerker wreed aangeval het, is tot Maandag 19 Augustus uitgestel. Marno en Chandré Mostert het Dinsdag (30/7) vlugtig in die landdroshof verskyn om die saak van die rol te laat skrap, maar hul aansoek is van die hand gewys.
Die Mosterts is voorheen van verwaarlosing aangekla toe dit aan die lig gekom het dat dit nie die eerste keer was dat hul huiswerker, Dipuo Kokolosi (48), deur die honde gebyt is nie.

Dipuo Kokolosi moes verskeie operasies ondergaan. Foto: Wouter Pienaar
Die honde het haar in Januarie 2022 aangeval en haar neus, lip, ore en dele van haar dye, bene en hande afgeskeur. Sy het in Januarie ’n operasie ondergaan om haar neus kosmeties te herstel.
Die Mosterts se regspan het Dinsdag ’n versoek by die Direkteur van Openbare Vervolging ingedien om die saak teen hulle te laat vaar omdat hulle meen die kans op ’n skuldigbevinding is uiters skraal. Die regspan het ook genoem dat hulle nie ’n skriftelike verklaring van die wesenlike feite van hul kliënte ontvang het nie. Die finale akte van beskuldiging is ná die hofsitting per e-pos na die regspan gestuur.
“Ons vra dat die saak nou van die rol geskrap word omdat ons kliënte benadeel word deur die geskiedenis van uitstel,” het Derik Schutte, hul prokureur, gesê.
“Die uitstel is ’n skending van die klaer sowel as die Mosterts se grondwetlike reg op ’n verhoor wat nie vertraag word nie.”
Kokolosi is aangeval terwyl sy alleen tuis was en ’n buurman het haar gille gehoor en ondersoek ingestel. Hy het die drie honde op haar gewaar en ’n waarskuwingskoot afgevuur. News24 berig die honde het op hom afgestorm en hy moes hulle doodskiet.
Intussen is die aanklagte in Bloemfontein teruggetrek teen ’n man (42) nadat sy vier honde sy meisie op sy private eiendom doodgebyt het.
Die NVG sê daar was nie ’n vooruitsig vir ’n suksesvolle skuldigbevinding nie omdat daar nie bewyse is dat ’n misdaad gepleeg is nie. “’n Klag van strafbare manslag beteken dat die staat nalatigheid aan die kant van die beskuldigde sou moes bewys,” sê Mojalefa Senokoatsane, Vrystaatse en Noord-Kaapse NVG-woordvoerder.


