Central SA
Akademia en Kanton stel monumentale kampusontwikkeling bekend─── CHARNÉ VAN DER MERWE 06:30 Fri, 02 Aug 2024

“Ons gaan ’n reusemonument vir Afrikaanse hoër onderwys oprig. Dit sluit kantoorblokke, lesingsale, laboratoriums, ’n ouditorium, navorsingslokale, ’n kafeteria, restaurante, ’n studentesentrum, , biblioteek, koshuise, en personeelverblyf in.”
Die grootste kampusontwikkelingsprojek in die geskiedenis van die Afrikaanse taal-en-kultuurgemeenskappe is Donderdag (1/8) in Pretoria bekendgestel.
Dit verteenwoordig ’n groot, historiese keerpunt om die volhoubaarheid van hoër onderwys in Afrikaans te verseker, sê Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia.
“Die nuwe kampus bied Akademia die geleentheid om ’n volledige en uitgebreide akademiese programaanbod oor al sy fakulteite beskikbaar te stel, wat aan die omvattende vraag van voornemende studente sal voldoen.”
Die eiendomsontwikkelingsmaatskappy Kanton het die nuwe kampusontwikkelingsprojek bekendgestel. Foto: Akademia
Dié kampus sal voorsiening maak vir 5 000 voltydse voorgraadse studente en nagenoeg 1 500 nagraadse studente. Vier mans- en vier vrouekoshuise sal 1 500 studente op die kampus kan huisves.
Die eiendomsontwikkelingsmaatskappy Kanton het die nuwe kampusontwikkelingsprojek van Akademia as deel van die Toekomsbouer-veldtog bekend gestel.
Die ontwikkeling sal in Pretoria geleë wees, 8 km van Solomon Mahlangurylaan op die Boschkop-pad in die ooste van Pretoria, sê Henk Schalekamp, besturende direkteur van Kanton en voeg by dat fase een van die projek nagenoeg R1,8 miljard beloop.
Dié kampus sal voorsiening maak vir 5 000 voltydse voorgraadse en nagenoeg 1 500 nagraadse studente. Foto: Akademia
Die tweede fase behels die voltooiing van die akademiese kampus en koshuise, waarna die sportfasiliteite, kapel en ouditorium sal volg.
“Ons gaan ’n reusemonument vir Afrikaanse hoër onderwys oprig,” voeg Schalekamp by. Dit sluit kantoorblokke, lesingsale, laboratoriums, ’n ouditorium, navorsingslokale, ’n kafeteria, restaurante, ’n studentesentrum, biblioteek, koshuise, en personeelverblyf in.
Hulle beplan ook sportgeriewe van wêreldgehalte vir rugby, krieket, netbal, tennis, atletiek, hokkie, swem en binnenshuise sportsoorte. “Daar word ook ’n proefplaas vir die Fakulteite Natuurwetenskappe en Landbou beplan.”
Wêreldgehalte-sportgeriewe word ook beplan. Foto: Akademia
Die hele projek sal na raming R3 miljard kos en bouwerk aan die kampus sal na verwagting Januarie 2026 begin, met die doel om die eerste studente in Januarie 2028 in te neem.
Kanton het reeds die grond aangekoop en al die voorbereiding gedoen en goedkeuring gekry om dit te kan ontwikkel.
’n Splinternuwe kampusontwikkelingsprojek is Woensdag in Pretoria bekendgestel. Foto: Akademia
Volgens Schalekamp word Kanton se sukses bevestig deur die Sol-Tech-kampus, wat betyds en binne begroting gelewer is. “Deur projekte soos ’n koshuis vir Sol-Tech en nou ’n kampus vir Akademia te ontwikkel, bewys Kanton sy vermoë om portefeuljes winsgewend te laat groei en bestuur.”
OFM Nuus/Charné van der Merwe mvh