Central SA
Twee ná moord op Kuruman-boer vrygelaat─── HEIDRÈ MALGAS 10:18 Tue, 01 Oct 2024
“Twee van die verdagtes, onderskeidelik 18 en 20 jaar oud, is vrygelaat omdat daar slegs bewyse teen twee van die beskuldigdes is.”
Twee van die vier verdagtes wat in verband met die moord op die 81-jarige boer van Kuruman in hegtenis geneem is, sal in aanhouding bly nadat hulle Maandag (30/9) in die Kuruman-landdroshof verskyn het.
“Orabile Vincent Motsewakgosi (24) en Kabelo Tata (26) sal Vrydag (4/10) weer in die hof verskyn vir 'n formele borgtogaansoek. Twee van die verdagtes, onderskeidelik 18 en 20 jaar oud, is vrygelaat omdat daar slegs bewyse teen twee van die beskuldigdes is. Die ander twee kan weer ingebring word indien verdere ondersoeke hulle verbind,” het Mojalefa Senokoatsane, woordvoerder van die NVG, gesê.
Hendrik Venter is Vrydag (27/9) dood by ’n buurplaas se hek aangetref.
Foto: Andries Groenewald/Landbou.com
“Venter het sy plaas tussen Kuruman en Hotazel om 08:30 verlaat om sy beeste te gaan versorg. Sy liggaam is omstreeks 09:45 langs sy voertuig gevind met wonde aan sy kop,” het Cherelle Ehlers, polisiewoordvoerder, gesê. “Daar word ook beweer dat ’n onbekende bedrag geld vermis word.”
Petrus Sitho, aktivis teen plaasmoorde en veediefstal, sê: “Ons regstelsel het ons in die steek gelaat. Daarom het ek hierdie Suid-Afrikaanse regering uitgedaag. Die regstelsel, die departement van landbou, en die polisie het misluk omdat iemand dood is – ’n 81-jarige boer is vermoor.
“Dit is skokkend dat die twee beskuldigdes huis toe gestuur is. Hulle mag weer ’n misdaad pleeg. Ons kan nie sulke dinge in ons samelewing toelaat nie. Hulle hoort in die tronk. Die familie van die slagoffer het hul geliefde verloor, en as Suid-Afrikaners het ons ’n boer verloor. Tog is hierdie twee huis toe gestuur,” het Sitho bygevoeg.
Dr. Wynand Boshoff van die VF Plus sê die moord op Venter van Kuruman beklemtoon weer die oormatige geweld in hierdie soort misdaad. “Die VF Plus se gebede gaan uit na Venter se geliefdes.
“Hoewel Kuruman as ’n misdaadbrandpunt in die Noord-Kaap bekend is, is plaasaanvalle steeds ’n seldsame voorval wat skokgolwe deur die gemeenskap stuur – selfs deur die hele provinsie,” sê Boshoff.
“Die feit dat Venter onderweg was om lone te betaal en dat die kontant daarvoor vermis word, kan lei tot die gevolgtrekking dat die motief vir die aanval bloot ’n rooftog was. Die vraag bly egter waarom dit nodig was om sy lewe te neem.”