Central SA
Buitelandse burger vas weens besit, handel in dwelms─── CHARNÉ VAN DER MERWE 11:00 Sun, 04 May 2025

’n Buitelandse burger sal na verwagting Maandag (5/5) in die hof verskyn weens die besit van en handel in dwelms, ná ’n suksesvolle polisie-operasie.
Die polisie het Vrydagaand (2/5) ’n vragmotor op die N1 naby Ventersburg, wat na Kaapstad onderweg was, voorgekeer, sê kapt.Loraine Earle, provinsiale polisiewoordvoerder. “Die Welkom honde-eenheid het meer as 6 600 bondels Khat, ’n onwettige middel, met ’n straatwaarde van amper R200 000 versteek in die vragmotor gevind.”
Die man is op die toneel in hegtenis geneem op aanklagte van die besit van dwelmmiddels en sal in die Ventersburg-landdroshof verskyn.
In ’n ander saak sal ses winkelbestuurders – almal buitelandse burgers van Bangladesj en Ethiopië, tussen 30 en 51 jaar oud – binnekort in die Welkom-landdroshof verskyn weens die besit van onwettige sigarette en die oortreding van die Medisynewet (101/1965).
Van die gekonfiskeerde produkte. Foto verskaf
Die inhegtenisneming is deur die Operasie Vala uMgodi-span gedoen tydens ’n tweedehandse goedere-nakomingsinspeksie in die Koppie Alleen-, Mooi- en Jan Hofmeyerstraat-gebiede, sê lt. kol. Thabo Covane, provinsiale polisiewoordvoerder. “Die span het verskeie verbode items gekonfiskeer, insluitend onwettige sigarette en verbode medisinale produkte.”
Covane sê handelsmerke soos Blue Chief, Remington Gold, Savanah Green, Boss, Sahawi en Ossam was onder die onwettige sigarette wat gevind is, saam met hubbly-geure soos Afzal Mint, F1, VIP en Sniper.
Gekonfiskeerde medisinale produkte het Betasol, Beneks, Diproson, Epiderm, Borrie-essensiële olies, Coco Pulp Cream en Caro Light Cream ingesluit. Die geraamde straatwaarde van die gekonfiskeerde goedere is R235 855.
OFM Nuus cg