On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Oos-Vrystater in hof oor beweerde moord op suster, aanranding van ma

───   ZENANDE MPAME 15:55 Mon, 19 May 2025

Oos-Vrystater in hof oor beweerde moord op suster, aanranding van ma | News Article
Oos-Vrystater in die hof oor beweerde moord op suster en aanranding van ma. Foto: sabcnews

’n Man van Phuthaditjhaba het Maandag (19/5) in die plaaslike landdroshof verskyn nadat hy na bewering sy ouer suster vermoor en sy ma aangerand het.

Die 31-jarige word aangekla van moord en aanranding met die opset om ernstig te beseer.

Die verdagte het na bewering Vrydag (16/5) sy suster daarvan beskuldig dat sy sy geld gesteel het. Toe hul ma tussenbeide tree, het die verdagte glo aggressief geraak, ’n mes uitgepluk en sy suster noodlottig gesteek.

Toe hul ma hom probeer keer, het hy haar glo op die voorkop, regterwang en regterskouer gesteek. Die verdagte se suster is met steekwonde hospitaal toe gehaas, maar is later aan haar beserings oorlede.


“’n Mes, wat vermoedelik as moordwapen gebruik is, is as bewysstuk gekonfiskeer,” sê Mmako Mophiring, Vrystaatse polisiewoordvoerder. “Die verdagte het te voet van die toneel gevlug en gaan wegkruip. Hy is die volgende dag opgespoor en in hegtenis geneem.”

Intussen sal ’n man van Henley on Klip binnekort weer in die landdroshof in Vereeniging verskyn op twee aanklagte van moord, nadat hy na bewering sy ma en tienerboetie doodgesteek het.

Brazea Mogudi (25) het op Maandag (12/5) in dieselfde hof verskyn en staar twee aanklagte van moord in die gesig omdat hy glo sy ma (54) en sy broer (16) doodgesteek het.

Albei slagoffers het veelvuldige steekwonde aan die nek, gesig en hande opgedoen. Die motief vir die aanval is onbekend.

Toe bure rumoer by die huis hoor, het hulle gaan ondersoek instel en gesien hoe Mogudi op sy jonger broer sit, wat op die grond gelê het, en hom herhaaldelik gesteek het.

Kriminoloë het verskeie redes gegee waarom gesinsmoorde kan plaasvind, insluitend huweliksprobleme, finansiële druk, werkloosheid, drank- en dwelmmisbruik, die oortreder se persoonlikheid, liggaamlike of geestesiektes, depressie en sosiale afsondering.

“Alhoewel broedermoord wel voorkom, is dit skaars – en moorde deur susters nóg skaarser,” sê die evolusionêre sielkundige Nigel Barber. “’n Interessante patroon by sibbesmoorde is hoe die ouderdomsverskil tussen die oortreder en slagoffer ’n rol speel.

“Wanneer albei nog jonk is, is dit gewoonlik die ouer broer of suster wat die jonger doodmaak. Maar onder volwassenes is dit meer dikwels die jonger een wat die ouer sibbe vermoor.”

OFM Nuus/Zenande Mpame cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.