Central SA
Ses uit op waarskuwing ná onwettige mynbou in Vrystaat─── CHARNÉ VAN DER MERWE 14:38 Wed, 21 May 2025

Ses verdagtes van die Vrystaat wat in die hof verskyn het vir beweerde oortreding van die Wet op die Ontwikkeling van Minerale en Petroleumhulpbronne, sal na verwagting Maandag (26/5) weer verskyn.
Tshepiso Mphofu (20), Charles Mlambo (31), Abel Seli (32), Teboho Molifi (34), Lebohang Mokonenyane (35) en Dlabantu Baleng (41) het Maandag (19/5) in die Theunissen-landdroshof verskyn, waar hulle op waarskuwing vrygelaat is.
Hul inhegtenisneming het gevolg op ’n operasie wat deur die Operasie Vala Umgodi-span in die Vrystaat op die plaas Blaawdrift in die distrik Theunissen uitgevoer is. Operasie Vala Umgodi is ’n wetstoepassingsprojek gemik op mynboubedrywighede wat die Wet op die Ontwikkeling van Minerale en Petroleumhulpbronne oortree.
Die Blaawdrift-plaas naby Theunissen. Foto verskaf
Volgens Covane het die polisie drie verdagtes (20, 31 en 32) gevind wat aktief sand myn op die plaas Blaawdrift naby die R30-pad. Beamptes het beslag gelê op ’n wit FAW Star-vragmotor, wat met sand gelaai was.
“In dieselfde gebied is nog drie verdagtes (34, 35 en 41) in hegtenis geneem terwyl hulle ook besig was met sandmynbou. Die polisie het beslag gelê op ’n wit Mercedes-Benz-vragmotor en ’n CAT-graafmasjien,” sê Covane.
’n Saak is by die Theunissen-polisiekantoor aanhangig gemaak vir die oortreding van die Wet op die Ontwikkeling van Minerale en Petroleumhulpbronne 28 van 2002, sowel as die Wet op Edelmetale 37 van 2005, Artikel 4(1).
Nóg inhegtenisnemings
In ’n aparte hofsaak sal vier ander verdagtes van die Noord-Kaap in die hof verskyn op aanklagte wat verband hou met dwelmmisdrywe en die oortreding van die Immigrasiewet.
Volgens sers. Timothy Sam, provinsiale polisiewoordvoerder, het die Noord-Kaap Operasie Vala Umgodi MAJOC-span, in samewerking met die ZF Mgcawu-distrik, Maandag (19/5) ’n geïntegreerde operasie in die omgewing van Postmasburg uitgevoer.
“Die operasie is uitgevoer met die ondersteuning van sekuriteitspanne by die Beeshoek- en Kolomela-myne, wat gelei het tot die inhegtenisneming van twee buitelandrs (25 en 32). Hulle is deur immigrasiebeamptes van die departement van binnelandse sake aangehou,” het Sam gesê.
Ses mense is aangekeer vir die oortreding van die Wet op Minerale en Petroleumhulpbronontwikkeling. Foto verskaf
Daarbenewens is twee Suid-Afrikaanse burgers (26 en 36) in hegtenis geneem op dwelmverwante aanklagte. Sam sê die operasie was toegespits op misdaad op en om die Postmasburgse stortingsterrein, ’n gebied wat ook verbind word met onlangse kabeldiefstalle, wat nabygeleë mynboubedrywighede raak.
Tydens die operasie is verskeie onwettige bousels gesloop. ’n Vrou en haar vyf kinders is na die departement van maatskaplike ontwikkeling verwys vir sorg en verdere bystand.
Alle verdagtes sal na verwagting binnekort in die Postmasburg-landdroshof verskyn.
OFM Nuus mvh