On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Central SA

Noord-Kaapse man dood in voertuig gevind

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:51 Tue, 27 May 2025

Noord-Kaapse man dood in voertuig gevind | News Article
Die huis in Daniëlskuil. Foto: Hendré Jacobs

Geen misdaad word vermoed nie nadat ’n Noord-Kapenaar dood gevind is in ’n vragmotor, wat in die oprit van ’n huis geparkeer was.

’n Kollega het Saterdag (24/5) omstreeks 09:00 op die oorledene (28) afgekom nadat hy ondersoek ingestel het nadat hy hom bewusteloos in die vragmotor gewaar het, sê lt.kol. Sergio Kock. Daniëlskuil se polisie doen ’n geregtelike doodsondersoek om die presiese oorsaak van die man se dood te bepaal.

Die kollega wat die man gevind het, het onmiddellik sy naaste familielede, die polisie en nooddienste in kennis gestel.

Die polisie het nog nie die oorledene se naam bekendgemaak nie, aangesien van sy naasbestaandes nog van sy dood in kennis gestel moet word.

Die konka is glo in die voertuig gevind. Foto: Hendré Jacobs 

Volgens Hendré Jacobs, ’n gemeenskapsjoernalis van Daniëlskuil, was die vragmotor in die erf van ’n huis geparkeer. Hy sê nooddienste het die man op die toneel dood verklaar. Dit lyk asof hy moontlik weens rookinaseming gesterf het.

“Inwoners het die polisie gekontak en die man is op die toneel dood verklaar, met oënskynlike rookinaseming as die oorsaak. Langs hom, op die passasiersitplek, is ’n mboala gevind. ’n Mboala is ’n tydelike vuuropstelling in ’n klein drom met gate.”

Kock bevestig dat ’n drom met gate – wat algemeen gebruik word om vuur te maak – langs die man op die vragmotor se passasiersitplek gevind is.

Die man is op die toneel dood verklaar. Foto: Hendré Jacobs 

Polisieondersoeke en ’n lykskouing sal egter bepaal of dit inderdaad die oorsaak van dood was.

Gedenkdiens vir onderwyser gehou

Intussen is ’n gedenkdiens Dinsdag (27/5) vir Janko Hamman, ’n onderwyser aan die Primêre Skool Vaalpark op Sasolburg gehou.

Hamman, wat op 8 Januarie 25 geword het, het na bewering sy eie lewe op 18 Mei geneem.

Hamman was self ’n leerder aan Vaalpark. As onderwyser aan die skool was hy betrokke by die akademiese en buitemuurse lewe. Hy het beduidende bydraes tot skoolsport gelewer, veral in minikrieket en rugby.

Onder sy leiding het die o.10- en o.11-rugbyspan merkwaardige sukses behaal, insluitend ’n onvergeetlike Superliga-oorwinning saam met sy medeafrigter, Janneman van Dijk, ’n hoogtepunt in die skool se sportgeskiedenis.

Janko Hamman. Foto: Facebook

Benewens die sportveld het Hamman verskeie verantwoordelikhede aanvaar, soos die bestuur van skooltegnologie waaronder projektors, internet en rekenaars. Hy was bekend vir sy bereidwilligheid om te help waar nodig en vir sy passie vir rugby, wat hom daartoe gelei het om sy eie rugbyakademie by die skool te stig – ’n program wat ’n bydrae tot talle leerders se lewe gelewer het.

Vaalpark beskryf Hamman as ’n geliefde lid van die skoolgemeenskap. Kollegas, leerders en ouers het hom bewonder vir sy geesdrif, toewyding en aansteeklike humorsin.

“Hy het deelgeneem aan die personeel se weeklikse aksiekrieketspan, waar hy die toonbeeld van pret en ware sportmanskap was, ’n ware ‘bok vir sports’.”

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.