On Now
Weekends 00:00 - 05:00
Early Mornings OFM
NEXT: 05:00 - 06:00 Opstaan with OFM
Listen Live Streams

Central SA

Saak van Vanderbijlpark-ma en sangoma uitgestel tot einde Junie

───   ZENANDE MPAME 09:24 Fri, 06 Jun 2025

Saak van Vanderbijlpark-ma en sangoma uitgestel tot einde Junie | News Article
Saak van Vanderbijlpark-ma en sangoma uitgestel tot einde Junie. Foto: X

Die Vanderbijlpark-ma, wat na bewering haar peuter (2) aan ’n sangoma verkoop het, sal op Woensdag 25 Junie in die Vanderbijlpark-landdroshof verskyn vir ’n borgtogaansoek.

Keneilwe Shalaba (33) en Sebokoana Khoanyane (50) het Donderdag (5/6) in dieselfde hof verskyn sodat Khoanyane vir regshulp kon aansoek doen. Sy regsverteenwoordiger het in die hof genoem dat Khoanyane besluit het om vir borgtog aansoek te doen.

’n Groep GBV-aktiviste het buite die hof bymekaargekom, gesing en geskree: “Justice for Kutlwano!”

Khoanyane, ’n Lesotho-burger, staan tereg op aanklagte van voorbedagte moord en mensehandel, terwyl ’n aanklag van voorbedagte moord ook by die ma, Shalaba, se klagstaat gevoeg is.

Shalaba het voorheen tereg gestaan op aanklagte van mensehandel, sameswering om te roof, en ’n valse verklaring aan die polisie.

“Die saak teen die twee is uitgestel tot Woensdag 25 Junie vir die borgtogaansoek van Khoanyane,” het Lumka Mahinjana, Gauteng NPA-woordvoerder, gesê. “Die staat is van voorneme om sy vrylating op borgtog teen te staan.”

“Die hof het voorheen die ma se vrylating op borgtog geweier. Khoanyane het ’n bekentenis afgelê en aan die polisie gewys waar die liggaam van die kind begrawe is.”


Tydens sy eerste hofverskyning het Khoanyane sy voorneme uitgespreek om skuld op die aanklagte te beken, maar landdros Michael Tlale het hom aangeraai dat dit nie die regte stadium in die verrigtinge is om te pleit nie.

Daar word beweer dat die ma van die kind in November verlede jaar die kind na die sangoma geneem het en hom versoek het om haar kind dood te maak omdat sy nie tevrede was met die geslag van die baba nie en moeg was om dit vir haar familie weg te steek.

Daar word beweer dat Shalaba haar seun gif gegee het, en nadat die kind dood is, het die twee glo die liggaam geneem en in ’n vlak graf in Waterpan begrawe.

“Khoanyane is op Donderdag (29/5) in hegtenis geneem nadat hy die polisie na ’n vlak graf in Waterpanweg naby die R28 in Bekkersdal gelei het, waar die oorskot van ’n peuter ontdek is,” het Mahinjana gesê.

Gauteng-polisie is tans besig met DNS-analise om die identiteit van die lyk te bepaal. Die peuter is aanvanklik in November as vermis deur haar ma aangemeld.

OFM News/Zenande Mpame cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.