Central SA
Noordwester se aansoek om borgtog uitgestel ná wrede aanranding─── CHARNÉ VAN DER MERWE 13:18 Mon, 09 Jun 2025

’n Man van Noordwes se borgtogaansoek is Maandag (9/6) uitgestel weens ’n teenstrydigheid tussen sy verklaring en dié van die ondersoekbeampte.
Braam Rees van der Westhuizen (25) sal na verwagting Dinsdag weer in die Klerksdorpse landdroshof verskyn op ’n aanklag van poging tot moord, wanneer sy borgtog heroorweeg sal word.
Van der Westhuizen het verskyn in verband met ’n wrede aanranding op Michael Deysel (26) wat dié slagoffer met ernstige geheueverlies gelaat het. Tydens sy borgtogaansoek is ’n verklaring van Van der Westhuizen voorgelees waar hy sê dat hy nié ’n vlugrisiko is nie en teenoor die hof beweer hy besit nie ’n paspoort nie.
Dit is egter weerspreek deur die ondersoekbeampte, wat ’n beëdigde verklaring ingedien het waarin hy verklaar dat daar gerugte was dat Van der Westhuizen van plan was om landuit te vlug. Gevolglik het beamptes reeds op sy paspoort beslag gelê.
OFM Nuus het voorheen berig dat Van der Westhuizen hom Vrydag 30 Mei aan die polisie oorgegee het nadat ’n lasbrief vir sy inhegtenisneming uitgereik is. Beamptes kon hom Donderdag nie by die huis opspoor nie.
Deysel, ’n kelner in ’n plaaslike restaurant, is na bewering op 17 Mei aangeval deur Van der Westhuizen, die huidige kêrel van sy eksmeisie. Intussen is bevestig dat Deysel se eksmeisie sy kind verwag.
’n Ooggetuie het aan OFM Nuus gesê dat Deysel hewig gebloei het weens kopbeserings en blykbaar op die teerpad rondgesleep is.
Deysel is sedertdien uit die Tshepong- tersiêre staatshospitaal in Klerksdorp ontslaan, waar hy in ’n kritieke maar stabiele toestand met bloeding op die brein opgeneem is.