On Now
Weekends 00:00 - 05:00
Early Mornings OFM
NEXT: 05:00 - 06:00 Opstaan with OFM
Listen Live Streams

Central SA

Noord-Kaapse landboumaatskappy ly weer verlies weens interne bedrog

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 08:41 Sat, 14 Jun 2025

Noord-Kaapse landboumaatskappy ly weer verlies weens interne bedrog | News Article
’n Landboumaatskappy loop weer deur weens bedrog. Foto: iStock

Agt beskuldigdes sal weer op 17 Julie in die landdroshof op Christiana verskyn op aanklagte van diefstal en geldwassery weens hul beweerde betrokkenheid by 'n bedrogskema.

Adam Kase (34), Ian Jooste (33), Chaney Anelize Killian (28), Lucas Myne (42), Joseph Koroke (35), Petrus Phepheng (67), Modupi Andries Seleke (35), en Klaas Setlhare (42) het Vrydag (13/6) in die hof verskyn, sê, lt. kol. Tinyiko Mathebula, Valkewoordvoerder.

Hulle is almal voormalige werknemers van Griekwaland Wes Korporatief (GWK) in Christiana en is op waarskuwing vrygelaat. Hulle moet ook regsverteenwoordiging kry. 

Die groep het na bewering mielies van die maatskappy gesteel en dit onwettig aan private kopers verkoop. Die opbrengs van hierdie transaksies beloop sowat R435 000 en is onder mekaar verdeel.

‘Sy het glo R292 000 ontvang’

“Killian is ook aangekla van geldwassery. Sy het na bewering meer as R292 000 uit die onwettige mielieverkope ontvang. Die geld is na haar man en medebeskuldigde, Ian Jooste, se rekening oorgeplaas” sê Mathebula.

Dit is nie die eerste keer dat GWK aansienlike finansiële verliese gely het weens interne bedrog nie.

Schalk Pienaar (37), Leolene Pienaar (34), Patricia Booysen (34) en Saal Andrico Brenton sal op 1 Julie in die Prieska-landdroshof verskyn op aanklagte van korrupsie, bedrog en geldwassery, het ao. Nomthandazo Mnisi, Valkewoordvoerder vir die Noord-Kaap, aan OFM Nuus gesê.

Verdagtes wat maatskappy glo besteel dan terug in hof | News Article

Schalk en Leolene Pienaar. Foto: Facebook/Leolene Pienaar

Die GWK-groep is na bewering tussen April 2020 en Oktober 2021 uit meer as R705 000 bedrieg. Schalk, Leolene, Booysen en Brenton staan tereg op verskeie aanklagte insluitend 39 aanklagte van korrupsie, 48 van bedrog en 78 van geldwassery. Schalk, ’n voormalige toesighouer by ’n GWK-vulstasie, het na bewering sy vrou as ’n verskaffer geregistreer sonder om hul verhouding te verklaar. Dit word deur die maatskappybeleid vereis. Hy het saamgesweer met Booysen, 'n administratiewe klerk, om vals fakture in haar naam in te dien.

Betalings is na bewering in Leolene se rekening gemaak, met ’n gedeelte wat na bewering na Booysen se persoonlike bankrekening oorgeplaas is. Brenton, wat op 21 Mei in hegtenis geneem en op borgtog van R300 vrygelaat is, het glo ook by die skema baat gevind en staan nou tereg op vyf aanklagte van geldwassery.

Schalk het bedank voordat die saak vir ondersoek oorhandig is, terwyl Booysen se diens later beëindig is.

OFM Nuus dg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.