Central SA
Rybewyse: ‘Agterstand regverdig gratis tydelike hernuwings’─── CHARNÉ VAN DER MERWE 10:19 Wed, 18 Jun 2025

Weens ’n agterstand van meer as 700 000 rybewyse wat steeds ongedruk is, word ’n beroep op die minister van vervoer gedoen om te verseker dat tydelike rybewyse gratis aan motoriste uitgereik word.
Nadat die land se enigste rybewyskaartdrukker die afgelope vier jaar langer as 130 dae buite werking was, dring AfriForum daarop aan dat minister Barbara Creecy die uitreiking van tydelike rybewyse gratis maak. Dit het aansienlik bygedra tot die agterstand van ongeveer 730 000 rybewyskaare, sê Louis Boshoff, AfriForum-woordvoerder.
“Dit is onaanvaarbaar dat motoriste gedwing word om vir tydelike lisensies te betaal sonder dat dit hul eie skuld is,” sê Boshoff. “Die regering moet verantwoordelikheid (aanvaar) vir sy administratiewe mislukkings en verseker dat wetsgehoorsame burgers nie finansieel gepenaliseer word nie.”
LEES OOK: Byna miljoen rybewyse agterstallig weens onklaar drukker
Hy hou vol dat wetsgehoorsame motoriste wat betyds aansoek doen om die hernuwing van hul rybewys, maar weens probleme met die drukker nou genoodsaak word om tydelike lisensies uit te neem, as’t ware “beboet” word vir die departement van vervoer se nalatigheid.
Volgens die departement se riglyne moet motoriste, wat nie voor die vervaldatum van hul rybewys aansoek om die hernuwing daarvan doen nie, ’n tydelike rybewys teen bykomende koste kry.
Boshoff sê die owerheid verwag dat selfs dié wat stiptelik hul rybewys hernu, betaal vir ’n tydelike rybewys aangesien die kans minimaal is om die nuwe kaart betyds te ontvang.
“As die departement nie in staat is om hul masjien in stand te hou of ’n nuwe een te kry nie, moet hý die prys daarvoor betaal, nie gewone motoriste nie.”
AfriForum en ander organisasies het al verskeie werkbare oplossings voorgestel om die agterstand met die druk van lisensiekaarte te takel, sê Boshoff, soos om die geldigheidstydperk van lisensiekaarte te verleng – maar dat die departement hom tot dusver doof gehou het vir dié aanbevelings.
“Die departement het nou reeds oorgenoeg tyd gehad om ’n nuwe rybewysdrukker te kry. Ons weier om aan te hou betaal vir ’n probleem wat weens swak bestuur steeds nie opgelos word nie,” sê Boshoff.
Die Organisasie vir die Bekamping van Belastingmisbruik (Outa) versoek egter dat geen boetes uitgereik word totdat die agterstand opgelos is nie.
Organisasie versoek die volgende:
1. Die aankondiging van ’n moratorium op boetes met betrekking tot vervalde bestuurslisensiekaarte vir motoriste, wat reeds vir ’n hernuwing aansoek gedoen het, en dat geen tydelike lisensies benodig word totdat alle agterstande opgelos is nie.
2. Openbare kommunikasie van hierdie moratorium deur alle amptelike kanale, insluitend RTMC-platforms, provinsiale verkeersowerhede en tradisionele en sosiale media.
3. Duidelikheid verskaf aan alle wetstoepassingsbeamptes om ongeregverdigde boetes en teistering van motoriste te voorkom.