Central SA
Jong Noord-Kapenaar Saterdag ter ruste gelê─── CHARNÉ VAN DER MERWE 12:18 Thu, 26 Jun 2025

’n Jong Noord-Kapenaar wat in ’n fratsongeluk op ’n myn gesterf het, word Saterdag (28/6) ter ruste gelê.
Johan Erasmus (22), wat as ’n assistent-ketelmaker by GF Mining gewerk het, het Saterdagoggend (21/6) sy lewe verloor in ’n fratsongeluk waarby een van die myn se vervoerbande betrokke was.
Erasmus, wat die afgelope vier jaar by die myn by Douglas werksaam was, is is op die toneel dood verklaar.
Sy ma, Corlia Erasmus, het aan OFM Nuus gesê Erasmus was na bewering op pad na die vervoerband toe hy moontlik gegly en daarin beland het.
Sy pa, ook Johan, is deur die skofbestuurder van die voorval in kennis gestel toe dié hom met die tyding wakker gemaak het. Johan sr. het daardie Vrydag nagskof gewerk.
“Ek het vir hom gesê om hard te werk en veilig te wees voordat ek gaan rus het,” onthou sy pa.
Sy ma het die hele dag onrustig gevoel
Corlia het gesê sy het die hele dag onrustig gevoel. “Ek het sy meisie, Chanelle Venter, gevra of sy van Johantjie gehoor het. Ek het hom twee keer probeer bel, maar geen antwoord gekry nie.
“Ek het vir sy pa ’n boodskap gestuur om te vra of Johantjie die nagskof saam met hom gewerk het en of hy dalk huis toe kom. Ek het weer ná 03:00 gevra, maar het steeds niks gehoor van wat gebeur het nie.”
Sy het selfs haar ma gevra om hom te probeer kontak, sonder sukses.
Toe ’n bakkie om 17:00 by hul huis aankom, het Corlia na Chanelle gedraai en gesê: “Hier is Johantjie nou!” Maar dit was sy pa wat uit dié bakkie geklim het.
“Hy het na my toe geloop en gesê om binne te kom en te sit. Ek het gevra hoekom, en hy het net aangedring. Toe het hy die verpletterende nuus aan Chanelle en my oorgedra.”
Corlia het Johan as ’n “werklik spesiale” jong man beskryf. “Hy was spontaan, warmhartig en deur so baie geliefd. Hy het ’n natuurlike sjarme gehad en oral vriende gemaak.
‘Ek is so trots – so baie trots – op my kind’
“Mense het altyd gesê hy was een van die vriendelikste en mees goedgemanierde jong mans. Ek is so trots – so baie trots – op my kind.”
Johan sou op 17 Augustus 23 geword het en was van plan om in dieselfde maand verloof te raak.
Corlia sê Johan was passievol oor fiksheid. “Hy was mal daaroor om aktief te bly en het selfs aan ’n (spierbou)kompetisie in Kimberley deelgeneem. Hy was baie trots op beide sy fisiese gesondheid en sy werk.
“As sy pa naweke moes werk, het Johantjie vrywillig vir die nagskof aangemeld om tyd saam met hom deur te bring. Dit was iets spesiaals wat hulle gedeel het.
“Ek gaan alles van my seun mis – veral sy lag en die glimlag wat altyd op sy gesig was.”
Sy het bygevoeg dat Johan se jonger broer, JJ Erasmus (19), sukkel om die verlies te verwerk. “Almal wat Johantjie geken het, kan net nie glo hy is weg nie.”
Erasmus word Saterdag (28/6) om 11:00 vanuit die Grasdakkerk op Douglas begrawe.