Central SA
Vervolging ná ongeluk nou in NVG se hande─── CHARNÉ VAN DER MERWE 09:45 Thu, 03 Jul 2025

Die ondersoek na die dood van drie kinders in ’n motorongeluk buite Bloemfontein is ná byna ses maande voltooi. Die vervolgingsbesluit berus nou by die NVG.
Die saakdossier is Dinsdag (1/7) by die NVG ingedien, waar die bewyse geëvalueer sal word om te bepaal of iemand vervolg moet word, sê kapt. Loraine Earle, Vrystaatse polisiewoordvoerder. “Ons wag nou op terugvoer van die hof oor die pad vorentoe.”
Die bestuurder ’n Toyota Hilux met ’n sleepwa vol swaar metaal het na bewering op 23 Januarie op die kruising van die N8 en Krugerlaan naby Aljo se Superspar ’n rooi verkeerslig verontagsaam.
Yolandé en Martin Smit het albei hul seuns, Ayden (links) en Ryan (middel), verloor. Foto: Facebook/Martin Smit
Ryan Smit (6) en sy niggie Leané van Papendorp (8) is op slag dood en Ryan se ouboet, Ayden (8), is met ernstige beserings na die Busamed-hospitaal gehaas. Sy hart het twee keer gaan staan voordat hy dood verklaar is.
Adri Jonck, Leané se ma en die bestuurder van die Spark, het ernstige beserings opgedoen en is na die Pelonomi-hospitaal geneem, maar is dieselfde dag ontslaan.
’n Ander kind, Tennique Joubert (6), was byna twee weke ná die ongeluk in ’n koma in die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein. Weens die erns van die impak moes Tennique se milt verwyder word. Sy is ná 19 dae se behandeling ontslaan.
Die kinders was almal op pad na die Primêre Skool Dr. C.F. Visser.
Herman van Papendorp en Adri Jonck met die foto van hul dogter, Leané. Foto: Charné van der Merwe
Die Smit-broers se pa, Martin, het voorheen aan OFM Nuus gesê dat hy die polisiekantoor meermale ná die ongeluk besoek het, maar herhaaldelik meegedeel is dat die polisie steeds wag op getuieverklarings, ’n nadoodse doktersverslag en dashcam-beeldmateriaal.
Die nadoodse verslag is Woensdag (25/6) by die dossier gevoeg.
OFM Nuus het voorheen berig dat die bestuurder se pa bevestig het dat sy seun in die buiteland is, maar wou nie verder kommentaar lewer nie.
Tennique is ná 19 dae in die hospitaal ontlsaan. Foto: Cornelius Berry
“Van die begin af het die saak wydverspreide media- en openbare aandag getrek, wat groot druk op die ondersoekspan geplaas het om antwoorde te verskaf,” sê Earle.
“Ten spyte van hierdie druk het die aangewese ondersoeker ’n deeglike en noukeurige ondersoek uitgevoer en ywerig met die beskikbare hulpbronne gewerk.”
LEES OOK: Bestuurder glo landuit ná N8-ongeluk drie kinders eis
Die ondersoeker se deursettingsvermoë en toewyding het die grondslag gelê het vir die NVG om nou die bewyse te evalueer en te bepaal of vervolging sal volg, voeg sy by.