On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Gerben
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Verdagtes gesoek ná transitorooftog by Bloemfontein

───   CORNÉ GREYVENSTEIN 09:02 Fri, 04 Jul 2025

Verdagtes gesoek ná transitorooftog by Bloemfontein  | News Article
’n Skermgreep van ’n video wat ’n passasier van ’n verbygaande motoris op die misdaadtoneel geneem het. Video verskaf

Die Valke in die Vrystaat soek na die rowers wat betrokke was by ’n transitorooftog laat Donderdag (3/7) op die N8 buite Bloemfontein.

’n Gepantserde geldwa, wat van Botshabelo na Bloemfontein onderweg was, is deur ’n silwer Mercedes-Benz van die pad gestamp. Gewapende verdagtes het losgebrand en een van die wagte in die regterarm gewond.

Die aanvallers het na bewering die Mercedes-Benz op die toneel aan die brand gesteek, vuurwapens van die veiligheidswagte gesteel en plofstof gebruik om toegang tot die kluis te verkry. Hulle het met ’n onbekende bedrag geld in ’n wit Toyota GD6 en ’n donkergrys Ford Ranger in die rigting van Bloemfontein gevlug.


“Ons het uit Bloemfontein gery in die rigting van Thaba Nchu toe minstens twee of drie voertuie in die rigting van die stad gejaag het,” vertel ’n motoris, wat verkies om anoniem te bly. “Die skote het toe begin klap. Daar is definitief heen en weer geskiet. Dis toe wat ons net platgeval het in ons voertuig. 

“Ons het stadig verbygery en gekyk of enigiemand beseer is, maar daar het niemand rondom die geldwa gelê wat ons kon sien nie. Dit was minute nadat die eerste skote geklap het.” 

Sy vertel hulle het iemand in die hospitaal besoek, en nadat sy haar parkeerkaartjie betaal het, het sy die kaartjie verloor. Hulle is dankbaar vir daardie paar minute se oponthoud. 

Dr. Ilse Fourie, hoof van ongevalle by die privaat hospitaal Busamed Bram Fischer, bevestig vier mense het noodbehandeling by hulle ontvang. “Verskeie mense het beserings … opgedoen en is deur ons traumaspan op die toneel behandel. Hul beserings het gewissel van gering tot matig, en almal is stabiel onder voortgesette waarneming.” 

Sy kon nie bevestig of die beseerdes lede van die publiek, veiligheidsbeamptes of verdagtes is nie. Almal se identiteit word steeds ondersoek.

Mediese hulp, berading ontvang

“Onder die omstandighede vaar ons Fidelity-beamptes goed. Hulle het mediese hulp en berading ontvang, en Fidelity Management bly in kommunikasie met hulle,” het Charnel Hattingh, Fidelity Services Group se Hoof: Groepbemarking en Kommunikasie, aan OFM Nuus gesê.

Die polisie vra enigeen met inligting moet lt.kol. Skota van die Valke by 079 509 4998 of 051 412 3000 nader. Die ondersoek duur voort.

OFM Nuus/Corné Greyvenstein

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.