On Now
Weekends 06:00 - 09:00
Weekend Breakfast Gerben
Show Background
NEXT: 09:00 - 12:00 The Central SA Top 30 with Laurika
Listen Live Streams

Central SA

Besoek onthul skokkende toestande in Noord-Kaapse hospitaal

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:29 Tue, 08 Jul 2025

Besoek onthul skokkende toestande in Noord-Kaapse hospitaal | News Article
Haglike omstandighede by die Hester Malan-hospitaal in Douglas. Foto: DA

’n Onlangse toesigbesoek deur die DA het skokkende toestande by ’n Noord-Kaapse hospitaal aan die lig gebring wat al langer as ’n maand sonder water is.

Die DA se besoek op 28 Junie aan die Hester Malan-hospitaal in Douglas het gevolg op groeiende kommer onder die publiek oor gesondheid- en veiligheidsrisiko’s in die inrigting, sê Isak Fritz, DA-wetgewerlid in die provinsie en gesondheidswoordvoerder, wat die besoek gelei het.

“Die situasie stel sowel die pasiënte as personeel in gevaar. Die hospitaal is ’n gesondheids- en veiligheidsrisiko. Infeksiebeheermaatreëls is nie ten volle geïmplementeer nie.”

Volgens Fritz het die tekort aan water daartoe gelei dat ongewaste linne, slaapklere en mediese uitrusting ophoop, wat ’n ernstige besmettingsgevaar skep. “Die pasiënte kan hulself nie behoorlik was nie en word gedwing om koue water in houers te gebruik, selfs al daal die wintertemperature.” 

Dokters, verpleegsters kan nie behoorlik hande was 

Fritz sê dokters en verpleegsters kan ook nie hul hande behoorlik was nie, wat die gevaar van kruisbesmetting verhoog.

Daar is ook vasgestel dat hospitaalsale, badkamers en openbare ruimtes nie voldoende skoongemaak of ontsmet word nie, en dat kombuishigiëne en voedselvoorbereiding ook in gedrang gebring word.

Fritz sê hy kon nietemin nie die presiese oorsaak van die watertekort bepaal nie. “Die personeel het geweier om met my te praat.”

Volgens Fritz het herhaalde pogings om premier Zamani Saul, Maruping Lekwene, die LUR vir gesondheid, en Mxolisi Mlatha, waarnemende hoof van die departement, oor die saak te kontak, geen vrugte afgewerp nie.

Ongewaste linne, slaapklere en mediese uitrusting hoop op. Foto: DA

Die party het wat hy die “patetiese reaksie” van sowel politieke leiers as bedryfsbestuurders noem, veroordeel. “Deur hierdie ernstige mislukking te ignoreer, laat hulle die siekes en kwesbares in ons provinsie in die steek,” sê Fritz.

LEES OOK: Waterprobleme: Noord-Kaapse inwoners eis verbeteringe

Hy het onderneem om die kwessie op die komende begrotingsvergadering aan te roer, waar hy antwoorde van die departement van gesondheid sal eis. “Ek sal aandring op ’n duidelike verduideliking en ’n definitiewe tydlyn vir die herstel van die hospitaal se watervoorsiening,” het hy gesê.

OFM Nuus wag nog op kommentaar nadat navrae aan Lebogang Majaha, woordvoerder van die Noord-Kaapse departement van gesondheid, gerig is.

OFM Nuus cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.