On Now
Weekends 06:00 - 09:00
Weekend Breakfast Gerben
Show Background
NEXT: 09:00 - 12:00 The Central SA Top 30 with Laurika
Listen Live Streams

Central SA

Waterprobleme: Noord-Kaapse inwoners eis verbeteringe

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:58 Mon, 07 Jul 2025

Waterprobleme: Noord-Kaapse inwoners eis verbeteringe  | News Article
Inwoners moet van watertenks gebruik maak om hul houers vol te maak. Foto verskaf

’n Brief is aan ’n Noord-Kaapse munisipale bestuurder voorgelê met eise van formele opdaterings, ’n skoonmaakskedule vir watertenks en ’n mobiele ondersteuningslyn vir die aanmelding van volgehoue waterprobleme.

Die Noord-Kaapse DA doen ’n beroep op dringende ingryping van hoër owerhede om skoon en veilige water aan inwoners van Warrenton te verskaf, asook om die voortdurende waterkrisis aan te spreek, sê Jo-Ann Isaacs, DA-raadslid.

Die DA beklemtoon dat baie inwoners maande lank sonder skoon, lopende water is, met die bejaardes en kwesbares wat veral geraak word. “Die haglike situasie, waar inwoners gedwing word om in die ry te staan vir vuil water uit vuil JoJo-tenks, lei tot ’n toename in maagverwante siektes.”

Die DA kritiseer die Magareng-munisipaliteit omdat hulle nie waterinfrastruktuur in stand hou, met die publiek kommunikeer of noodondersteuning bied nie.

Groot dele het nie toegang tot skoon water

Groot dele van die gemeenskap het al ’n geruime tyd nie toegang tot skoon, lopende water nie, sê Isaacs. Sy sê sommige inwoners is al maande lank sonder water. “Bejaarde inwoners, wat tot hul huise beperk is, kan nie self water gaan haal en dra nie, en is afhanklik van hulp om te oorleef.”

Volgens Isaacs word inwoners gedwing om in lang rye by JoJo-tenks te staan om vuil water te gaan haal.


“Die water is nie geskik vir menslike gebruik nie en die munisipale watertenks is ook sigbaar vuil. Daar is geen skedule of plan vir die skoonmaak en instandhouding van die watertenks nie. Maagverwante siektes neem toe aangesien die meeste mense nie [gebottelde] water kan bekostig nie.”

Terwyl inwoners desperaat wag vir water om hul krane te bereik, veroorsaak die verwaarloosde infrastruktuur dat water in die strate afloop.

Kommunikasie het die situasie vererger

Isaacs sê die gebrek aan formele kommunikasie deur munisipale kanale oor die dorp se watersituasie het die benarde situasie vererger. “Inwoners is sonder leiding, tydlyne of hoop gelaat.”

Sy sê die onbeskikbaarheid van die munisipale gemeenskapsondersteuningskakelbeampte en die afwesigheid van ’n waarnemende water- en sanitasietegnikus wanneer die verantwoordelike amptenaar met verlof is, laat die gemeenskap in die steek.


“Die DA het ’n brief aan die munisipale bestuurder voorgelê waarin versoek word dat formele opdaterings oor die waterkwessies deur amptelike platforms aan alle raadslede en die gemeenskap gestuur word, met tydlyne, oorsake en proaktiewe gebeurlikheidsplanne. Die party versoek ook dat ’n lys van geskeduleerde skoonmaaksessies van gemeenskapswatertenks gepubliseer word en dat ’n mobiele of naweekondersteuningsreaksieskakel gevestig word om klagtes sonder onderbreking aan te meld.”

Party versoek ook ingryping van hoër

“Terwyl ons nog wag vir ’n antwoord op ons versoeke, het Lisa Schickerling, DA-kiesafdelinghoof van Diamant-Noord, ook aan die adjunkminister van Water en Sanitasie geskryf om hom van ’n opdatering te voorsien oor die verslegtende watersituasie, ná vorige besoeke aan die gebiede,” sê Isaacs.

Die party versoek ook ingryping van senior beamptes.

“Niemand [behoort te] gaan slaap sonder ’n druppel skoon water, of bad in water wat nie geskik is vir menslike gebruik nie,” sê Isaacs.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.