Central SA
Reiskoste: Oud-polisiehoë van Upington in Augustus weer in hof─── CHARNÉ VAN DER MERWE 10:48 Thu, 10 Jul 2025

’n Voormalige Noord-Kaapse polisie-offisier wat van ’n geknoei met reis- en verblyfeise verdink word, sal weer op 19 Augustus in die hof verskyn vir die blootlegging van die dossier in sy beweerde korrupsiesaak aan die verdediging.
Lt.kol. Pieter Andries Nel, wat voorheen by die Upington-polisiekantoor gestasioneer was, het Woensdag (9/7) op aanklagte van korrupsie in die plaaslike landdroshof verskyn, sê lt.kol. Tebogo Thebe, Valke-woordvoerder.
Nel is op 20 Mei op borgtog van R20 000 vrygelaat nadat die saak uitgestel is vir ’n eerste verskyning in die streekhof.
OFM Nuus het voorheen berig dat Nel deur die Valke se ondersoekeenheid vir ernstige korrupsie by sy huis in hegtenis geneem is op aanklagte van bedrog, geldwassery en oortredings van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur.
Bedrieglike betalings van meer as R1,2 miljoen beweer
Volgens Thebe was Nel, in sy hoedanigheid as die polisie se hoof van finansiële dienste in die Z.F. Mgcawu-distrik, verantwoordelik vir die goedkeuring van betalings aan diensverskaffers sowel as verblyf- en reiskoste vir polisiebeamptes in Gordonia.
“Tussen 2022 en 2024 het hy na bewering bedrieglike betalings van meer as R1,2 miljoen geskep en goedgekeur, wat toe na bewering in sy persoonlike bankrekening betaal is,” het Thebe gesê.
Intussen sal twee ander Noord-Kapenaars na verwagting op 5 Augustus weer in die Douglas-landdroshof verskyn in ’n saak wat handel oor bedrog met mynregte.
Roslyn Crossingham (72) en Martha Rapetsoa (49) het onderskeidelik Woensdag (7/9) en 19 Junie in die hof verskyn.
Crossingham is op borgtog van R15 000 en Rapetsoa op borgtog van R800 vrygelaat.
Crossingham en Rapetsoa is twee van die beskuldigdes wat by die bedrogsaak betrokke is en is mededirekteure van Rowen Tree 60, het ao. Nomthandazo Mnisi, Valke-woordvoerder, vroeër aan OFM Nuus gesê.
Terugtrekkingsbrief teruggehou
Rapetsoa word daarvan beskuldig dat sy ’n aansoek om die hernuwing van prospekteerregte, wat reeds deur die departement van minerale bronne en energie verwerk was, teruggetrek het.
Crossingham word daarvan beskuldig dat sy in 2012 ’n aansoek om die maatskappy se prospekteerregte by die departement van minerale bronne en energie te hernu, teruggetrek het.
Volgens Mnisi het sy en haar mede-direkteure die maatskappy en die ongeldige mynregte ten spyte hiervan in 2015 vir R100 000 aan ’n sakeman verkoop.
Roslyn Crossingham. Foto SAPD
“Voordat die betaling gedoen is, het Crossingham die maatskappy na bewering weer verkoop – hierdie keer aan die klaer – terwyl sy die terugtrekkingsbrief teruggehou het om dit te laat lyk asof die prospekteerregte steeds geldig was.”
Die klaer, wat geglo het dat die mynregte geldig was, het R1,368 miljoen vir die maatskappy betaal.
Mnisi het gesê dat ’n gedeelte van hierdie bedrag, R100 000, na bewering in die persoonlike rekening van een van die direkteure betaal is. “Die transaksie het na bewering daartoe gelei dat die klaer die volle R1,368 miljoen verloor het.”
Nog verdagtes sal na verwagting in verband met die bedrog in hegtenis geneem word.