On Now
Weekends 06:00 - 09:00
Weekend Breakfast Gerben
Show Background
NEXT: 09:00 - 12:00 The Central SA Top 30 with Laurika
Listen Live Streams

Central SA

Borgtog vir Noord-Kaapse vrou wat glo mynregte verkoop

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 14:14 Wed, 09 Jul 2025

Borgtog vir Noord-Kaapse vrou wat glo mynregte verkoop | News Article
Roslyn Crossingham. Foto SAPD

’n Vrou van die Noord-Kaap wat teregstaan weens die verkoop van ongeldige mynregte moet weer op 5 Augustus in die hof verskyn nadat sy op borgtog vrygelaat is.

Roslyn Crossingham (72) het Woensdag (9/7) in die Douglas-landdroshof verskyn waar borgtog van R15 000 aan haar toegestaan is, sê ao. Nomthandazo Mnisi, Valke-woordvoerder.

Crossingham is een van die twee beskuldigdes wat by die bedrogsaak gevoeg is nadat Martha Rapetsoa (49), mededirekteur van Rowen Tree 60, op 19 Junie in die Douglas-landdroshof verskyn en op borgtog van R800 vrygelaat is. Rapetsoa word daarvan beskuldig dat sy ’n aansoek om die hernuwing van prospekteerregte teruggetrek het wat reeds deur die departement van minerale bronne en energie verwerk was.

Daar word beweer dat Crossingham in 2012, terwyl sy as mededirekteur van Rowen Tree 60 gedien het, ’n aansoek om die maatskappy se prospekteermynregte by die departement van minerale bronne en energie te hernu, teruggetrek het.

Mnisi sê ten spyte hiervan het sy en haar mededirekteure in 2015 die maatskappy en die ongeldige mynregte vir R100 000 aan ’n sakeman verkoop. 

“Voordat die betaling gemaak is, het Crossingham na bewering die maatskappy weer verkoop – hierdie keer aan die klaer – terwyl sy die terugtrekkingsbrief teruggehou het om dit te laat lyk asof die prospekteerregte steeds geldig was.”

LEES OOK: Kamma-makelaar van Noord-Kaap se hofsaak begin dan

Die klaer, wat geglo het dat die mynregte geldig was, het R1,368 miljoen vir die maatskappy betaal.

Mnisi sê ’n gedeelte van hierdie bedrag, R100 000, is glo in die persoonlike rekening van een van die direkteure betaal. “Die transaksie het na bewering daartoe gelei dat die klaer die volle R1,368 miljoen verloor het.”

Nog verdagtes sal na verwagting aangekeer word weens die bedrog. Nog ’n beskuldigde wat daarvan aangekla word dat hy beleggers uit meer as ’n miljoen rand bedrieg het, word op 18 Julie weer in die hof verwag wanneer die voorlopige hofverrigtinge sal begin.

LEES OOK: Noord-Kapenaar, nog verdagtes binnekort in hof weens beweerde bedrog

Ruan Maritz het Woensdag (26/6) in die spesialishandelsmisdaadhof op Hartswater verskyn nadat hy beleggers na bewering uit R2 miljoen bedrieg het, sê kol. Tebogo Thebe, Valke-woordvoerder. Maritz het na bewering voorgegee dat hy ’n makelaar van Quick Trade Investment and Forex Trading was en toegeslaan op die klaers en ander voornemende beleggers. 

Die beleggingskontrak het bepaal as beleggers 50% van die belegging sou bydra, sou Maritz dit ewenaar. Hy het na bewering nie sy kant van die ooreenkoms nagekom nie. 

Die Valke se ondersoekeenheid vir ernstige handelsmisdaad het Maritz op 25 Maart in hegtenis geneem. Hy is die volgende dag op borgtog van R50 000 vrygelaat.

OFM Nuus mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.