On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Verdagte steeds soek ná man se skietdood buite Kimberley-kuierplek

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 13:00 Wed, 23 Jul 2025

Verdagte steeds soek ná man se skietdood buite Kimberley-kuierplek | News Article
Foto ter illustrasie: iStock

Die Noord-Kaapse polisie soek steeds na die verdagte of verdagtes nadat ’n man se liggaam byna twee weke gelede buite ’n gewilde kuierplek aangetref is.

’n Geregtelike doodsondersoek is geopen ná die ontdekking van die man se liggaam by die Stones-nagklub in De Beers gedurende die vroeë oggendure van 13 Julie, sê kol. Cherelle Ehlers, polisiewoordvoerder.

“Die Kimberley-speureenheid ondersoek die dood van ’n volwasse man, vermoedelik tussen 55 en 60 jaar oud, wie se liggaam die Sondag omstreeks 04:30 by ’n plaaslike nagklub gevind is.”

Oorledene se naam nog nie bekend gemaak nie

Ehlers sê die naam van die oorledene mag nie bekend gemaak word nie, aangesien sy familie nog nie toestemming verleen het nie. Sy het bygevoeg dat ’n lykskouing uitgevoer sal word om die oorsaak van sy dood te bepaal.

Enigiemand met inligting word versoek om speurao. JJ Markgraaff by 082 302 0407 te kontak, of Stop misdaad by 08600 10111. Alle inligting wat ontvang word sal vertroulik hanteer word. 

Nog ’n saak van poging tot moord word in Kimberley ondersoek nadat ’n 36-jarige man ten tyde van ’n protesoptog in die stad in die rug en maag geskiet is.

Poging tot moord ondersoek ná skietery tydens Kimberley-betoging | News Article

Poging tot moord ondersoek ná skietery tydens Kimberley-betoging. Foto verskaf

Volgens inwoners is die man geskiet toe hy op pad werk toe was. Padversperrings in die gebied het dit glo moeilik gemaak om toegang tot mediese hulp te verkry.

Inwoners van Kimberley het Maandag 14 Julie aan ’n protesoptog deelgeneem om hul woede oor swak dienslewering te kenne te gee en die ontslag van die munisipale bestuurder en direkteure van Sol Plaatje, sowel as die ontbinding van die raad, te eis.

Die polisie ondersoek ’n saak van poging tot moord nadat die man ten tyde van die betoging naby die N8 in Greenpoint in die rug en maag geskiet is, sê Ehlers. “Ons ondersoek steeds wat presies gebeur het.”

OFM Nuus mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.