Central SA
NWU-rektor verwelkom planne vir akademiese hospitaal─── ZENANDE MPAME 10:17 Wed, 30 Jul 2025

Die nasionale gesondheidsdepartement wil drie nuwe sentrale hospitale in provinsies oprig waar sulke instellings nie bestaan het nie, waaronder Noordwes.
Prof. Bismark Tyobeka, rektor en visekanselier van die Noordwes-Universiteit (NWU), spreek sterk steun uit vir die onlangse aankondiging van Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, oor die vestiging van nuwe akademiese hospitale.
Die aankondiging, wat tydens die minister se begrotingstoespraak op Dinsdag 22 Julie gemaak is, is bedoel om nuwe hoop te bring vir verbeterde toegang tot gesondheidsorg in provinsies wat tans nie sulke instellings het nie, naamlik Noordwes, die Noord-Kaap en Mpumalanga.
“Die minister se aankondiging is groot nuus vir die universiteit, want dit gee ’n groot hupstoot aan ons planne vir die nuwe Desmond Tutu- mediese skool,” sê Tyobeka. “Die skool gaan begin by die Klerksdorp-Tshepong-hospitaal in die Kenneth Kaunda-distrik.”
Die aankondiging dat Noordwes ’n opleidingshospitaal gaan kry, is goeie nuus, sê hy, want dit beteken die Klerksdorp-Tshepong-hospitaal sal opgradeer word. “Dit kan ook daartoe lei dat die tersiêre hospitaal in Mahikeng opgradeer tot ’n akademiese hospitaal.”
So kan die te stigte Desmond Tutu- mediese skool ’n groter voetspoor te hê, voeg hy by, wat nie net belangrik is vir toegang tot hoër onderwys nie, maar ook om toegang tot mediese opleiding te verbeter.
Die NWU is reeds in ’n gevorderde stadium van die bou van die mediese skool en die eerste inname word beplan vir begin 2028. Bouwerk aan Suid-Afrika se elfde mediese skool het op Dinsdag 3 Junie amptelik op die Potchefstroomkampus begin toe Tyobeka, as rektor en visekanselier, die eerste sooi gespit het.
Vyftig studente sal hul eerste jaar in 2028 aan die instelling begin. In die tweede jaar sal 80 studente toegelaat word, en ná vier jaar sal jaarliks honderd eerstejaars aanvaar word.
“Die integrasie van die (skool) met ’n toekomstige akademiese hospitaal in Noordwes hou groot belofte in vir die bevordering van mediese opleiding sowel as vir die verbetering van toegang tot gesondheidsorg en uitkomste in die provinsie,” sê Tyobeka.