On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
Show Background
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Central SA

Verdagtes nog gesoek in Noordwes-kind se verkragting, moord

───   KEKELETSO MOSEBETSI 10:39 Wed, 30 Jul 2025

Verdagtes nog gesoek in Noordwes-kind se verkragting, moord | News Article
Photo: OFM News

Die polisie in die Noordwes werp alles in die stryd om verdagtes op te spoor wat glo betrokke was by die verkragting van en moord op ’n jong meisie in Tseoge, sowat 170 km noord van Kuruman.

Die kind se liggaam is Saterdag (26/7) gevind, nadat sy vroeër dié dag as vermis aangemeld is. 

Haar dood het skokgolwe deur die afgeleë gemeenskappie gestuur. ’n Geregtelike doodsondersoek is van stapel gestuur en die ondersoek duur voort.


Wessel Morweng, LUR vir gemeenskapsveiligheid en vervoerbestuur, veroordeel die voorval ten sterkste en beskryf dit as “ontstellend en barbaars”. Hy moedig die polisie aan om hul soektog meedoënloos voort te sit.

“Die voorval het binne die gemeenskap plaasgevind. Die nedersetting is klein genoeg dat mense mekaar sal ken. 

“Elke inwoner moet verantwoordelikheid aanvaar om elke kind in die nedersetting te beskerm. Ek doen ’n beroep op enigiemand om soveel moontlik inligting in te samel sodat die polisie die verantwoordelike mens(e) aan die pen kan laat ry.”

Hy moedig die plaaslike gemeenskap aan om aktief aan die ondersoek mee te werk en beklemtoon die belangrikheid van eenheid en waaksaamheid om geregtigheid te laat geskied. “Moenie ’n enkele steen onaangeroer laat nie,” vra hy.

Intussen het die polisie valse berigte van die hand gewys dat twee onbekende liggame wat in Pietermaritzburg gevind is, verbind kan word met die verdwyning van twee mans van Klerksdorp. Die liggame is vroeg Maandagoggend in die Snathing GG-gebied gevind.

Adele Myburgh, Noordwes-polisiewoordvoerder, sê die liggame wat in Pietermaritzburg aangetref is, was dié van swart mans, terwyl die vermiste mans wit is.

OFM Nuus/Kekeletso Mosebetsi mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.