Central SA
Get Wise Wednesday: Waarop moet jy let wanneer jy ’n tweedehandsemotor koop─── 14:00 Wed, 06 Aug 2025

OFM se Pulane Nel-Sekepe het tydens Get Wise Wednesday met Rikus Blommerus, uitvoerende bemarkingsbestuurder by We Buy Cars, gesels oor die belangrikste dinge wat motorkopers in gedagte moet hou – veral wanneer dit by gebruikte voertuie kom.
Blommerus sê die eerste belangrike stap is om by ’n betroubare handelaar of handelsmerk te koop met ’n gevestigde reputasie en jare se goeie diens.
“Jy wil nie jou geld waag op ’n kansvatter of skelm privaat verkoper wat dalk ’n probleemvoertuig probeer afsmeer nie.”
Die tweede punt is om soveel moontlik inligting oor die spesifieke voertuig te kry – nie net oor die fabrikaat nie. Gaan ry self met die motor of neem iemand saam wat meer kennis het.
“As jy nie self ’n kenner is nie, is dit belangrik om iemand saam te neem wat foutlyne, geluide en ander potensiële probleme kan raaksien.”
Gevaartekens sluit in: waarskuwingsligte op die paneel, moeisame aanskakeling, vreemde geluide, rook, of as die motor rukkerig ry. Kyk ook of spuitverf op sekere panele verskil – dit kan dui op ’n vorige ongeluk.
LEES OOK: Get Wise Wednesday: Verstaan jou motor se waarskuwingsligte!
Selfs geverfde skroewe onder die enjinkap kan ’n aanduiding wees dat daar al aan die voertuig gewerk is.
Verder sê Blommerus kopers moet nie emosioneel koop nie. “Kies ’n voertuig wat pas by jou werklike behoeftes – of dit nou pendelwerk, sleepwerk of naweekgebruik is.
“Moenie ’n sportmotor koop as jy elke dag ver ry en brandstof wil spaar nie.”
OFM Nuus mvh