Central SA
Bejaarde Vrystaatse boer se moordverhoor uitgestel─── CHARNÉ VAN DER MERWE 13:02 Thu, 07 Aug 2025

Die verdediging wag steeds op ’n antwoord van die provinsiale direkteur van openbare vervolging nadat hulle ’n vertoë namens ’n bejaarde Vrystaatse boer ingedien het wat van moord aangekla word.
Carl Christian Gutter (78), ’n boer van Brandfort, word vervolg nege jaar nadat hy na bewering vir Sonnyboy Segalo, wat op sy plaas oortree het, doodgeskiet het. Die saak is tot 3 Oktober uitgestel vir die uitslag van die vertoë, sê adv. Allen Simpson, Gutter se regsverteenwoordiger.
As die vertoë nie slaag nie, sal hulle ’n vertoë rig aan die nasionale direkteur van openbare vervolging. Gutter is op 21 Mei in hegtenis geneem en het dieselfde dag in die hof verskyn, toe R2 000 borgtog aan hom toegestaan is.
Carl Christian Gutter. Foto verskaf
Hy het weer op 29 Mei verskyn, toe die verdediging ’n uitstel versoek het vir die vertoë.
Die aanklag spruit uit ’n voorval op 29 Augustus 2016 op Gutter se plaas, Palmietfontein, in die distrik Brandfort. Die polisie is na die toneel ontbied na berigte van ’n plaasaanval, het lt.kol. Zweli Mohobeleli, Valke-woordvoerder, voorheen gesê.
“Met hul aankoms het hulle vier verdagtes teëgekom wat deur plaaslike boere en plaaswerkers aangehou is. Onder hulle was Segalo, wat met sy gesig na onder gevind is met ’n skietwond in sy rug.”
LEES OOK: Bejaarde Vrystaatse boer weer in hof vir moord
Twee vuurwapens is naby die toneel gevind en vir ballistiese ontleding gestuur.
“Hoewel hy en sy medepligtiges aanvanklik van poging tot roof aangekla is, is die drie medebeskuldigdes vrygespreek.” Segalo het later aan sy beserings beswyk, maar niemand is destyds op aanklagte van moord in hegtenis geneem nie.
Ná ’n formele geregtelike doodsondersoek, wat in Julie verlede jaar deur die Brandfort-landdroshof geopen is, het die hof se bevindinge in Maart daartoe gelei dat ’n lasbrief uitgereik is vir Gutter se inhegtenisneming op aanklag van moord.