Central SA
Vermiste Noordwes-mans ná byna ’n maand gevind─── CHARNÉ VAN DER MERWE 16:09 Thu, 07 Aug 2025

Die twee mans van Noordwes wat byna ’n maand lank vermis was, is ongedeerd gevind.
Christiaan van Blerk (34) en Donovan van der Walt (25) is Donderdag (7/8) in Kempton Park op Gauteng se Oos-Rand opgespoor, sê kol. Adéle Myburgh, Noordwes-polisiewoordvoerder. Geen verdere besonderhede is deur die polisie bekend gemaak nie.
Van Blerk en Van der Walt was sedert 14 Julie vermis nadat hulle na bewering hul werkplek verlaat het en nooit teruggekeer het nie.
OFM Nuus het voorheen berig dat die twee mans glo onderdele in Klerksdorp Industria gaan haal het. Hulle is laas gesien by Afrikaner Plot, Wesselstraat, Meiringspark, in ’n wit Toyota Hilux Raider met motorregistrasie KWF254NW.
Ná hul verdwyning het berigte opgeduik wat daarop dui dat hulle saam met diesel en geld verdwyn het. Myburgh het aan OFM Nuus bevestig dat geen saak van diefstal aangemeld is nie.
Op Maandag 28 Julie is twee onbekende mans se liggame in die Snathing GG-gebied naby Pietermaritzburg, KwaZulu-Natal, gevind. Gerugte het die ronde gedoen dat dit Van Blerk en Van der Walt kon wees. Myburgh het egter later bevestig dat die gerugte ongegrond is.
LEES OOK: Noord-Kaapse vrou ná vier maande in vlak graf gevind
Die polisie herinner die publiek daaraan dat vermiste mense onmiddellik by die naaste polisiekantoor aangemeld kan word. Die aanmelding moet vergesel word van ’n onlangse foto van die vermiste persoon, asook besonderhede van wat hulle aangehad het en waar hulle laas gesien is.
“Sedert 2020 het die polisiediens al 17 968 vermiste persone met hul geliefdes herenig,” sê Athlenda Mathe, nasionale polisiewoordvoerder. “Dit sluit volwassenes en kinders in wat regoor die land as vermis aangemeld is.
“Die polisie bly daartoe verbind om alle mense in Suid-Afrika te dien en te beskerm, en herinner die publiek geen wagtyd geld om iemand as vermis aan te meld nie.”
OFM Nuus mvh