Central SA
Gewilde skrywer met sterk Bloemfonteinse bande sterf─── SUSAN MARÉ 12:56 Fri, 08 Aug 2025

Die dood van die geliefde Afrikaanse skrywer Madelein Rust is ’n enorme verlies nie net vir haar lesers nie, maar vir almal naby haar.
Haar nalatenskap is veel, veel meer as die boeke wat sy geskryf het, sê Leana Lategan, vroeër van Naln in Bloemfontein. Rust is Woensdag (6/8) rustig in haar slaap oorlede nadat sy lank borskanker en later beenmurgkanker gehad het.
Sy het ten spyte van haar siekte steeds met geesdrif geskryf. In haar outobiografiese vertelling, Kanker Schmanker, het sy op ’n kordaat en nugter met die siekte “in gesprek getree” en haar lesers met hierdie vreeslose verslag bemoedig om self te volhard, sê Lategan.
Die geliefde Afrikaanse skrywer Madelein Rust het in haar outobiografiese vertelling, Kanker Schmanker, met die siekte “in gesprek getree”. Foto: LitNet
“Sy het ons skrywerswêreld armer gelaat en in haar lesers se oë sal dit ’n blywende leemte laat. As Bloemfonteiner het sy graag pouses in die biblioteek van die Primêre Skool Brandwag gesit en lees, tóé al ’n boekeliefhebber.
“Haar eerste skryfpogings het pryse gewen by die Bloemfonteinse Skrywersvereniging. Jare later sou sy altyd op uitnodiging van die Fichardpark-biblioteek met haar lesers kom gesels, elke keer vir ’n hele saal vol gretige lesers. Ná skool het sy aan die Universiteit van die Vrystaat studeer.
“Sedert haar debuut in 2014, met 13 de Kaart, het ’n tiental misdaadrillers gevolg. As storielyne het sy haar laat lei deur wat aktueel in nuusberigte was.
Sedert haar debuut in 2014, met 13 de Kaart, het ’n tiental misdaadrillers gevolg. Foto: Lapa Uitgewers
“Noukeurige navorsing was nodig vir elke roman, iets wat sy baie geniet het. Teen 2020 was sy weer eens in die ysere greep van kanker toe sy met terminale beenkanker gediagnoseer is.
“Die laaste akuut pynlike reis het sy eweneens in boekvorm beskryf, en “Van vrees na vrede” het nogmaals vir haarself sowel as medereisigers moed en vrede gebring.”
Rust se laaste twee romans, Bessie se hangkasbiblioteek en die splinternuwe Drie moorde in die Baai, was albei onmiddellike treffers.
“Rust se laaste twee romans, Bessie se hangkasbiblioteek en die splinternuwe Drie moorde in die Baai, was albei onmiddellike treffers.” Foto: NB Uitgewers
Lategan sê Madelein was ’n geliefde mens, iemand in wie se nabyheid ’n mens graag wou wees. “Haar nalatenskap is veel meer werd as die boeke wat sy geskryf het en ons dink met liefde aan haar familie en vriende.”
Ilse Salzwedel, ’n jare lange vriendin, skryf op LitNet Rust was die taaiste mens wat sy geken het. Altyd blymoedig, diep gelowig en dankbaar dat haar Vader haar nog spaar vir haar geliefde man, Jaun, en hul kinders, Tanya en Nico.
Dit was Rust se versoek dat haar begrafnisdiens privaat sal wees en slegs vir die familie. Volgens Salzwedel het Rust se man gevra dat mense wat blomme wil stuur, dit eerder moet skenk aan die West Coast Life-hospitaal op Vredenburg sodat dit aan baie siek mense uitgedeel kan word. Daar sal twee privaat dienste wees.
Bloemfontein was altyd vir Rust haar hart se stad
Rust het ’n besonderse verbintenis met Bloemfontein gehad. Op ’n vraag van Jonathan Amid op LitNet oor hoe sy te werk gaan om Bloemfontein as ruimte te ontgin, antwoord sy: “Ek het aanvanklik oor Bloemfontein geskryf omdat dit die plek was wat ek die beste geken het.
“Daar het geen twyfel by my bestaan dat ek die ruimte, ná meer as 40 jaar daar, op ’n outentieke wyse sou kon ontgin nie. Daarby wou ek die Rosestad op die ‘map’ sit, iets waaroor my Bloemfonteinse lesers vreeslik ingenome is.
“Die stad verander egter gedurig en daarom is Google en Google Maps deesdae my getroue metgeselle wanneer ek oor my hart se stad skryf. Dit wat egter nog lank dieselfde gaan bly, is die mense en die stad se gees. Dit is ’n wonderlike kombinasie van konserwatief en boheems, as jy weet waar om te soek.”
Vir my is die dood bloot die draai van ’n sleutel ’n slot
Gevra wat sy dink gebeur wanneer ’n mens doodgaan, antwoord Rust: “Die vraag wat mens seker eerste moet vra, is of iets so fenomenaal soos die siel sterflik is.
“Die liggaam, wonderbaarlik kompleks en uiters fragiel, ondergaan ’n biologiese proses van dekonstruksie wanneer die tyd aanbreek, maar wat gebeur met die siel wanneer daardie proses begin?
“Vir my is die dood bloot die draai van ’n sleutel in ’n slot. Ek dink nie ons is intellektueel toegerus om mooi te begryp wat ná ons dood met ons siel gebeur nie, maar ek glo vas dis die begin van iets onbeskryflik mooi.
“Haar nalatenskap is veel meer werd as die boeke wat sy geskryf het.” Foto: Netwerk24
“Miskien is my vaste geloof in die triomfering van die siel die rede waarom dit nie vir my moeilik is om oor enigiets te skryf nie. Terwyl ons aardgebonde is, moet ons probeer sin maak van dit wat is.”
Rust se boeiende stories het haar lesers meegesleur
Charmaine Griffin op LitNet: “Ek het so halfuur terug Doodsengel klaar gelees … genade! Ek het gisteroggend met die boek begin en kon net niks anders doen as om hom klaar te lees nie.
“Skok, hartseer, woede het deur my gegaan met elke bladsy.
“Wat dit meer werklik maak, is dat ons weet daar is sulke ‘varke’ daar buite sulke monsters. Ek het letterlik op die punt van my stoel gesit met elke paragraaf.
Die dood van die geliefde Afrikaanse skrywer Madelein Rust is ’n enorme verlies. Foto: LitNet
“Maar toe kon ek nie meer help nie, toe moes ek die tissues nader trek. Wat ’n mooi einde.
“Madelein Rust jy is ’n wonderlike, fantastiese storieverteller; hoendervleis het oor my lyf uitgeslaan. Om die werklikheid so kras te kon skryf moes net so erg vir jou gewees het soos vir die leser.
“As ek die boek ’n punt moet gee is dit 100/100. Wonderlike skryfwerk. Ek wag in spanning vir die volgende beste een!”