On Now
Weekends 09:00 - 13:00
The Central SA Top 40 Laurika
Show Background
NEXT: 13:00 - 16:00 Saterdag Siësta with Benita
Listen Live Streams

Central SA

Kommer oor afknouery, veiligheid by skool in Noordwes

───   KEKELETSO MOSEBETSI 10:00 Sat, 21 Nov 2026

Kommer oor afknouery, veiligheid by skool in Noordwes  | News Article
Kenetswe Mosenogi, waarnemende LUR vir onderwys, het die Bethel Secondary School besoek. Foto verskaf

Afknouery en veiligheidskwessies is van die grootste uitdagings waarmee die Noordwes-onderwysdepartement te kampe het ná ’n voorval by die Bethel Secondary School. ’n Groep leerders het glo oproerig geword en groot skade aangerig.

Om te verseker die eksamen word nie ontwrig nie is die gr. 12-leerders van die skool op die plaas Holgat in Verdoornpark naby Coligny na bewering na die Onkgopotse Tiro Combined School verskuif. Op Vrydag 13 November het van die senior leerders by die Bethel Secondary School na bewering die onaanvaarbare “inisiasiekultuur” beoefen.

Dit behels na bewering die afknou van jonger leerders, veral die in gr. 8, en is bedoel om ’n blywende indruk op die skool te laat voordat die gr. 12-leerders klaar is met skool. 

“Die skoolbestuur het hierdie onmenslike en onaanvaarbare gedrag veroordeel en alle nodige stappe gedoen om te verseker dat sulke praktyke nie weer by die skool geduld word nie," sê Elias Malindi, woordvoerder van die onderwysdepartement


Hy sê die situasie het vererger toe die gr. 12-leerders na bewering koshuisvensters en -deure beskadig het, die elektrisiteit afgeskakel en ander skoolinfrastruktuur beskadig het. Kenetswe Mosenogi, waarnemende LUR vir onderwys, het die afgelope week die skool besoek om vordering met die eksamen te monitor en die situasie te evalueer.

Sy het met die skoolbestuur, koördineerders, die skoolbeheerliggaam en opvoeders vergader om te verstaan wat gebeur het en om die nodige ingrypings te bespreek. Daar is ook gekyk na die omvang van die skade en om die veiligheid en welstand van almal by die skool te verseker.


Mosenogi sê dit is belangrik om ouers te betrek deur terugvoer- en besprekingsessies ná die voorval. “Ek het talle oproepe ontvang van ouers oor die provinsie heen wat wil weet of hul kinders veilig is by die skool. Ek is werklik tevrede met die vlak van ingrypings wat toegepas is.”

Die skoolbestuur het ook besluit om ’n ouervergadering te belê sodat almal hul menings kan gee, asook insette oor die voorval. 

OFM Nuus dg

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.