Central SA
Noord-Kaapse vrou steeds soek wat kan help met saak─── 14:08 Fri, 15 Aug 2025
Die Noord-Kaapse polisie gaan voort met hul soektog na ’n vrou wat moontlik kan help met die finalisering van ’n ondersoek na aanranding met die opset om ernstig te beseer.
Die polisie doen ’n beroep op die publiek om na vore te kom met enige inligting wat kan help om haar op te spoor, sê sers. Omphile Masegela, polisiewoordvoerder. “Die vrou is geïdentifiseer as Petronella Wilhelmina Steyn (64), ook bekend as Ronel Podges.”
Volgens Masegela word sy as ’n persoon van belang in die saak beskou en is sy laas gesien by die Steve Biko- akademiese hospitaal in Pretoria. “Haar samewerking is nodig om die saak af te handel.”

’n Gesigsamestelling van die vermeende verkragter. Foto verskaf
Enigiemand wat weet waar Podges is, word versoek om 076 021 8440 of 054 337 3400 te skakel.
Verdagte steeds soek
Intussen vra die Vrystaatse polisie mense moet help om ’n verdagte op te spoor wat gesoek word in verband met die verkragting van ’n tienermeisie op Parys. Die eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele oortredings in Tumahole soek na ’n man wat na bewering die meisie (15) verkrag het, sê sers. Josephine Rani, polisiewoordvoerder.
Die voorval het op 23 Mei omstreeks 07:30 plaasgevind. Die tiener was na bewering alleen in ’n klaskamer agter haar skool toe die verdagte verskyn het, haar na ’n nabygeleë veld gesleep en haar verkrag het.
LEES OOK: Publiek se hulp gevra ná tiener van Parys by skool gegryp, verkrag is
Volgens Rani ken die slagoffer nie die man nie. Die Tumahole-eenheid doen ’n beroep op enigiemand wat die verdagte op grond van sy gelaatstrekke kan identifiseer om na vore te kom.
Inligting kan verskaf word aan die ondersoekbeampte, Noliyiswa Masondo, by 082 049 5208, bel Stop Misdaad by 08600 10111 of anonieme wenke kan met die MySAPS-app ingedien word.
OFM Nuus mvh
