Central SA
Publiek se hulp gevra ná tiener van Parys by skool gegryp, verkrag is─── CHARNÉ VAN DER MERWE 10:19 Tue, 12 Aug 2025

Die Vrystaatse polisie vra die publiek se hulp om ’n verdagte op te spoor ná die verkragting van ’n tiener van Parys.
Die eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe (GKS) in Tumahole, Parys, is op soek na ’n man wat na bewering ’n 15-jarige verkrag het, sê sers. Josephine Rani, polisiewoordvoerder. Blykbaar was die meisie op 23 Mei omstreeks 07:30 by die skool toe ’n man skielik opgedaag en haar na ’n veld agter die skoolgebou gesleep het, waar sy verkrag is.
Volgens Rani was die meisie alleen in ’n klaskamer aan die agterkant van die skool toe sy gegryp is deur die man, wat sy nie ken nie.
Mense gevra om man uit te ken
Die GKS-eenheid in Tumahole vra enigiemand wat die man aan die gesigsamestelling kan uitken moet na vore kom.
Enigiemand met inligting word versoek om die ondersoekbeampte, Noliyiswa Masondo, by 082 049 5208 te bel, of Stop Misdaad by 08600 10111. Anonieme wenke kan ook deur die MySAPSApp ingedien word.
Onlangse misdaadstatistieke skets ’n gemengde prentjie van aangemelde verkragtingsake in Sentraal-Suid-Afrika die afgelope twee jaar.
In die Vrystaat het aangemelde verkragtingsake effens met 1,1% gestyg, van 716 sake tussen Januarie en Maart 2024 tot 724 sake in dieselfde tydperk in 2025, ’n jaar-op-jaar-toename van agt sake.
Noordwes het ’n afname van 4,8% beleef: 832 in die laaste kwartaal van die 2023/24-boekjaar vergeleke met 792 ’n jaar later, oftewel 40 sake minder.
Vrystaat se koers naashoogste
In die Noord-Kaap het aangemelde verkragtingsake met 1,7% gestyg, van 297 vroeg in die laaste kwartaal van 2023/24 tot 302 sake, ’n toename van vyf sake.
Die Vrystaat het egter die tweede hoogste verkragtingskoers van 24,4 gevalle per 100 000 inwoners en die Noord-Kaap die derde hoogste, naamlik 22,3 per 100 000 inwoners.
OFM Nuus cvs