On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Vermiste Vrystater ná 10 dae opgespoor

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:37 Tue, 19 Aug 2025

Vermiste Vrystater ná 10 dae opgespoor | News Article
Jan Dirk Henning. Foto: Facebook

’n Vrystater, wat vermis was nadat hy van die Pelonomi-hospitaal af verdwyn het, is ongedeerd gevind nadat hy vir tien dae op straat was.

Jan Dirk Henning (54), wat aan ’n ernstige psigotiese toestand ly, is Dinsdag (19/8) in Universitas, Bloemfontein, gevind, sê Madeleine Neethling, sy suster, aan OFM Nuus. Anton Botha, wat van die eerste dag by die soektog betrokke was, het die familie laat weet dat hy gevind is. 

Volgens Botha het hy al die noodreaksiedienste laat weet dat Henning vermis is. Herman Groenewald en Juan Clover van Life Rosepark se mediese nooddiens het hom Dinsdagoggend (19/8) gekontak om te sê hulle het hom gekry.

Jan Dirk Henning is Dinsdag (19/8) ongedeerd ná tien dae op straat gevind. Foto: Facebook

Henning is Vrydag 8 Augustus vir waarneming in die Pelonomi-hospitaal opgeneem. Die familie is egter die Saterdagaand net ná 19:00 in kennis gestel dat hy vermis word. 

Toe Neethling die hospitaal gekontak het, het die personeel glo geweier om verdere besonderhede te verskaf en vir haar gesê hulle kon nie bevestig dat sy die suster is nie. Henning het nie ’n mediese fonds nie en sou na ’n isolasie-afdeling oorgeplaas word. 

Tien dae op straat

Volgens Neethling het haar broer af en toe buite gaan rook en ongeduldig begin raak omdat hy moes sit en wag. Hy het toe van die hospitaal weggeloop.

“Ek het foto’s van hom gekry en jy kan sien hy was vir tien dae op straat. Sy skoene is deurgeloop. Ons is so dankbaar dat hy veilig is en dat niks met hom gebeur het nie.”

Neethling het voorheen aan OFM Nuus gesê Henning se toestand het die afgelope maande versleg, wat die familie laat besluit het om hom te laat opneem.

Henning het op ’n plaas naby Petrus Steyn gewoon, waar sy familie hom gereeld besoek het om kos en klere vir hom te bring. “Hy het nie beter geword nie – hy het agteruitgegaan. 

“Ons het hom na Pelonomi geneem omdat ons bekommerd was oor sy gesondheid, maar toe het hy net verdwyn.” Sy sê haar broer is Dinsdagoggend weer in Pelonomi opgeneem, waar hy nou vir waarneming gehou sal word. 

“Ongelukkig kan hy nie meer alleen bly nie, en die volgende stap is dat hy in ’n plek van veiligheid geplaas word waar iemand daagliks na hom kan omsien en verseker dat hy sy medikasie neem.”

OFM Nuus/Charne van der Merwe cvs/mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.