On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Klerksdorp-speurder, makkers in aanhouding ná bakkiekaping

───   09:51 Wed, 20 Aug 2025

Klerksdorp-speurder, makkers in aanhouding ná bakkiekaping | News Article
Foto ter illustrasie: Facebook/On The Road Again

’n Speurder van Klerksdorp en sy twee vermeende medepligtiges kom weer volgende Donderdag (28/9) in die plaaslike landdroshof voor nadat hulle na bewering ’n bakkie gekaap het.

Die kapingspoging op Saterdag 19 Julie het egter skeefgeloop toe sers. Tshepo Pooe (41), Christiaan Erasmus (37) en Athini Johnson Sonamzi (29) na bewering kort ná die voorval in ’n ander voertuig vasry. Die drie verdagtes moes onverrigter sake te voet vlug, sê kol. Adéle Myburgh, Noordwes-polisiewoordvoeder.

Die speurder en sy makkers is Vrydagaand (15/8) in hegtenis geneem nadat ’n deeglike, maand lange ondersoek hulle verbind het met die voertuigkaping in Theunissenstraat, Elandsheuwel. Hulle bly in aanhouding ná hul eerste hofverskyning Maandag.

Die klaer en sy vrou het blykbaar die Saterdag in ’n orange Ford Ranger in die Klerksdorpse woonbuurt gesit toe die bestuurder van ’n Volkswagen Polo met twee passasiers naby hulle stilhou, vertel Myburgh.

“Die verdagtes het hulleself na bewering as polisiebeamptes voorgestel. Die slagoffer het agterdogtig geraak en probeer wegkom, maar ’n skoot is geskiet wat (die bakkie) se een agterband beskadig het.”

LEES OOK: ‘Vermiste’ mans van Klerksdorp Maandag in hof

Die egpaar het uit die voertuig geklim en na ’n nabygeleë huis gevlug terwyl die verdagtes spore gemaak het in die Ranger, sê Myburgh. Die voertuig is later aangetref in Leemhuisstraat ná ’n botsing met ’n ander voertuig.

“Al is dit uiters teleurstellend dat een van die verdagtes ’n polisiebeampte is van wie verwag word en wat vertrou word om die wet toe te pas,” sê genl.maj. Patrick Asaneng, waarnemende provinsiale polisiekommissaris, “is dit ’n riem onder die hart en gerusstellend dat die polisie deur hul eerlike, lojale, toegewyde en hardwerkende beamptes misdadigers, onder wie skelms in hul midde, aan die man sal bring.”

OFM Nuus mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.