Central SA
Ses verdagtes in renosterhoring-sindikaat kry borgtog─── KEKELETSO MOSEBETSI 10:31 Wed, 20 Aug 2025

Ses verdagtes, wat daarvan beskuldig word dat hulle deel is van ’n groot renosterhoring-sindikaat, het borgtog gekry in die Pretoriase landdroshof.
Die groep sluit mense uit die omgewings-, reg- en sakewêreld in en word daarvan beskuldig dat hulle tussen 2017 en verlede jaar ’n sleutelrol in die onwettige handel in renosterhorings gespeel het. Die beskuldigdes is John Frederick Hume (83), stigter en voormalige eienaar van die Platinum Rhino-bewaringsonderneming.
Ook in die beskuldigdebank is Clive John Mervan Melville (63), ’n vervoeronderhoudsbestuurder, en Izak Hermanus du Toit (50), ’n prokureur. Verder word Elizabeth Catharina van Niekerk (58), direkteur van ’n organisasie sonder winsoogmerk, Mattheus Hendrikus Wessels Poggenpoel (37), ’n versekeringstussenganger en deeltydse boer en Johannes Abraham Hennop (52), ’n wildreservaatbestuurder, aangekla.
Hulle word deur altesaam 55 aanklagte in die gesig gestaar, waaronder uitbuiting, bedrog, diefstal en geldwassery. Volgens ondersoekbeamptes het die groep glo die departement van bosbou, visserye en die omgewing bedrieg deur permitte vir plaaslike handel in renosterhorings te bekom, maar dit dan die internasionale mark ingesmokkel, veral na Suidoos-Asië.
Dit sou 964 renosterhorings behels het met ’n geskatte waarde van R250 miljoen. Die ses het hulself Dinsdag (19/8) in die Pretoriase sentrale polisiekantoor oorgegee ná ’n jare lange ondersoek deur die Valke se eenheid vir wildsmokkelary.
Al die beskuldigdes het borgtog aangevra en beweer hulle is nie ’n vlugrisiko nie, sê Lumka Mahanjana, Gautengse NVG-woordvoerder. Hofstukke toon egter dat sommige reeds vorige veroordelings het.
Melville erken ’n 2019-vonnis vir bedrog en besit van renosterhorings, waarvoor hy ’n boete betaal het. Poggenpoel het ’n 2009-veroordeling vir die besit van ’n renosterhoring en ’n hangende saak oor onwettige ammunisie en medisyne.
Adv. Patsy Jacobs, vir die staat, het borgtog nie teengestaan nie. Sy en speurder Edward du Plessis beklemtoon dat die beskuldigdes hul adres bevestig het en met die ondersoek saamwerk.
Die hof het streng borgvoorwaardes opgelê, insluitend die inhandiging van paspoorte, weeklikse aanmeldings by die polisie, ’n verbod op inmenging met getuies of ondersoeke en ’n verbod op verdere misdaad.
Die saak is tot 9 Desember uitgestel vir verdere ondersoek.
OFM Nuus/Kekeletso Mosebetsi mvh