Click on the warning image to view this post
Agriculture
Renosterstropery toon skokkende toename in Sentraal-Suid-Afrika─── ISABEL VAN TONDER 05:00 Wed, 23 Jul 2025
Renosterstropery in die Vrystaat en Noord-Kaap areas het ’n ontstellende toename getoon en weens verskeie faktore word die bekamping hiervan ’n byna onmoontlike taak.
Renosterstropery en wildsmokkel blyk ’n toenemende probleem te word in die Vrystaat, Noord-Kaap en Molopo-gebied. “Die aantal renosters wat in die Vrystaat en Noord-Kaap vanaf Junie 2024 tot nou gestroop is, is alreeds 27, waarvan 12 in die Noord-Kaap was en 15 in die Vrystaat,” sê Bouwer Haupt, uitvoerende bestuurder van SAPIS en ook lid van Eyes and Ears (E2). Haupt is ook die koördineerder van die Kalahari Integrated Wildlife Zone.
Die Departement van Bosbou, Visserye en Omgewingsake het in 2019 die land in 7 sones verdeel wat spesifiek die hoogste syfer bedreigde spesies en renosters het.
Die doel van die struktuur is om samewerking teen wildmisdaad, veral renosterstropery, te verbeter en om natuurreservate, privaat grond en gemeenskapsgebiede in ‘n gesamentlike bewaringstrategie te integreer.
Haupt is koördineerder van die Kalahari Integrated Wildlife Zone, wat die Vrystaat, Noord-Kaap en Molopo in Noordwes insluit. Die samewerking tussen die verskillende sones is van kardinale belang.
Logo van die Kameeldoring Rhino Conservation Forum (KRCF). Logo: KRCF
Die Kameeldoring-renosterbewaringsforum, wat ’n organisasie sonder winsoogmerk is, vorm deel van die Integrated Wildlife Zone en beskerm drie grensgebiede, naamlik Namibië, Botswana en Lesotho. Meer as 90% van die renosters in hierdie area is in privaatbesit. Die area huisves ook meer as ’n derde van die hoogs bedreigde swartrenosterspesie.
‘Wildsmokkel het ‘n ernstige georganiseerde misdaad en nasionale veiligheidsbedreiging geword’
Wildsmokkel is nie meer ’n bewaringskwessie nie, dis ’n bedreiging vir menslike veiligheid, omgewingsvolhoubaarheid en ekonomiese stabiliteit vir Suid-Afrika. Die tipe misdaad word gedryf deur misdaadsindikate en militêre groepe en word gefasiliteer deur korrupsie, swak grensbeheer en vuurwapensmokkel.
Dit is ook ’n finansierder van ander tipes misdaad soos mensehandel, onwettige mynbedrywighede, dwelmsmokkelary en vuurwapensmokkel.
Die renosterstropers is hoogs gesofistikeerde misdadigers. Renosterstropery en die onwettige handel van renosterhoring vorm deel van internasionale georganiseerde misdaadnetwerke wat gedryf word deur hoë aanvraag.
“Die Kameeldoring-bewaringsforum was sedert 2019 betrokke by die inhegtenisneming van 82 stropers in vyf van die Integrated Wildlife Zones, maar ongelukkig was baie van die sake swak of glad nie vervolg nie as gevolg van ballistiese uitslae, vertragings en gebrekkige polisie-ondersoeke.
“Die waarde van renosters wat in ons area gestroop is en waarvan sake onopgespoor afgesluit is, is gelykstaande aan 70 000 skape,” sê Haupt.
‘Die strategieë en planne van die regering en internasionale bewaringsorganisasies het die renoster gefaal en ‘n bedelaar gemaak’
Daar is steeds geen volhoubare oplossings vir die bewaring van renosters of wildboere nie. Veediefstal eenhede is swak beman, daar is ook beperkte toegang tot tegnologie en forensiese wetenskap. Lae vervolgingsyfers, korrupsie in polisie en howe en ligte strawwe maak die vervolging ’n byna onmoontlike proses.
’n Hartseerfoto van ’n gestroopte renoster. Foto verskaf/KRCF
‘Watter maatreels kan ‘n boer wat renosters aanhou, instel om sy diere te beskerm?’
Bedreigde spesies op plase kan nie afsonderlik gesien word van landelike veiligheid nie en hierdie organisasies is broodnodig om stroping te bekamp. Boere moet gebruik maak van tegnologie, soos kameras op hul plase, en te alle tye bewus wees van enige vreemde bewegings. Integriteitskeurings is noodsaaklik. Weet ten alle tye wie vir jou werk en handhaaf ‘n positiewe verhouding met die polisie in jou area.
Risiko-analise is van uiterste belang omdat dit nie net die diere is wat in gevaar is nie maar ook die boer en sy familie, wildbewaarders en werkers op die plaas.
Renosters en ander bedreigde spesies moet ten alle koste bewaar word, dis wilde diere en kan nie ’n noodnommer bel, misdaad aanmeld of hulp vra nie, diere is uitgelewer aan die mens. In baie gevalle word die renosterkoei geskiet en die kalfie vrek as gevolg van blootstelling. Daar is selfs gevalle waar meer as een renoster gestroop word om die stompies wat oorgebly het van die “onthoringde” renoster ook te stroop.
As gevolg van stropery van renosters en ander bedreigde spesies, neem getalle vinnig af en staar sommige spesies inderdaad uitsterwing in die oë.
OFM Agri/Isabel van Tonder cg