Central SA
Potchefstromer se saak na DOV gerig vir vertoë ná noodlottige botsing─── CHARNÉ VAN DER MERWE 15:25 Wed, 20 Aug 2025

’n Noordwester, wat daarvan beskuldig word dat hy die dood van twee vriende veroorsaak het, se saak is weer uitgestel, dié keer tot 1 Oktober sodat vertoë gerig kan word aan die direkteur van openbare vervolging.
Dit is die sewende uitstel sedert die dood van Kobus Huyser (28) en Niel Grobler (19) ses jaar gelede. Gideon Borstlap (38) van Potchefstroom staan tereg op twee aanklagte van strafbare manslag wat voortspruit uit ’n noodlottige motorongeluk ses jaar gelede.
Hy het Maandag (18/8) in die streekhof in Potchefstroom verskyn en is weer op waarskuwing vrygelaat, sê Sivenathi Gunya, NVG-woordvoerder. Die ongeluk het omstreeks 19:00 op 15 Augustus 2019 plaasgevind op die kruising van Govan Mbeki-rylaan en Smitstraat, naby die gholfbaan.
Kobus Huyser en Niel Grobler. Foto: Facebook
Die twee vriende was saam op pad toe Borstlap se voertuig na bewering met hulle s’n gebots het. Albei slagoffers is op slag dood.
OFM Nuus het vroeër berig tydens ’n hofverskyning op 29 Mei het Borstlap se verdedigingspan bykomende inligting met betrekking tot die saak aangevra. Borstlap is aanvanklik kort ná die ongeluk in hegtenis geneem en op borgtog vrygelaat.
Die saak is egter in 2020 teruggetrek vir verdere ondersoek. In 2022 het Grobler en Huyser se naasbestaandes by AfriForum aangeklop en hul frustrasie uitgespreek oor die langdurige vertragings en gebrek aan vordering.
LEES OOK: Potchefstromer se saak weer uitgestel ná noodlottige botsing
Andrew Leask, hoofondersoeker by AfriForum se privaat vervolgingseenheid, het bevestig dat hulle die NVG genader het. “Ná besprekings is ooreengekom verdere ondersoek is nodig.
“Ons het aangebied om ’n kenner te voorsien om die ongelukstoneel te rekonstrueer. Die polisie het toe hul eie kenners aangestel en ’n omvattende rekonstruksie voltooi.”
“Die voltooide toneelrekonstruksieverslag is aan die DOV oorhandig,” sê Leask, wat toe besluit het om voort te gaan met die vervolging van Borstlap.
Onafhanklike ooggetuie
Gunya het voorheen aan OFM Nuus gesê die vervolgingspan ná Borstlap se aanvanklike inhegtenisneming en die indiening van die dossier by die hof was bekommerd oor die afwesigheid van ’n onafhanklike ooggetuie wat die saak kon ondersteun.
“Die saak is van die hofrol verwyder. Die polisie het toe deur die plaaslike media ’n beroep gedoen op ooggetuies om na vore te kom.
“’n Nuwe ooggetuie was bereid om ’n verklaring af te lê. Die dossier is toe na die DOV gestuur, wat besluit het om die saak weer op die hofrol te plaas.”