On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Noordwes-Universiteit bou mynboukampus in Rustenburg

───   ZENANDE MPAME 11:02 Mon, 25 Aug 2025

Noordwes-Universiteit bou mynboukampus in Rustenburg | News Article
Die Noordwes-Universiteit bou ’n mynboukampus in Rustenburg. Foto: nwu.ac.za

“Die Noordwes-Universiteit se mynboukampus gaan ’n groot rol speel om waarde toe te voeg tot grondstowwe voordat dit uitgevoer word,” sê prof. Bismark Tyobeka, NWU-visekanselier.

Die universiteit beplan om tussen 2027 en 2030 met die bou van ’n mynboukampus in Rustenburg te begin. In 2029 sal ’n afdeling ontwikkel word wat aan formele onderrig en praktiese opleiding toegewy is.

Die plan is dat daar met die projek betekenisvolle interaksie geskep word wat inwoners direk bevoordeel en sal verseker dat die universiteit se kundigheid en hulpbronne maatskaplike en ekonomiese vooruitgang ondersteun. Die NWU rig ook sy Desmond Tutu-skool vir Geneeskunde op en brei sy universiteit-ondernemingsmodel verder uit.

“Die NWU se skool vir mynbou is ’n langtermynprojek wat strook met die instelling se strategiese prioriteite en terselfdertyd reageer op dringende nasionale en internasionale behoeftes,” sê prof. Liezl van Dyk, uitvoerende dekaan van die fakulteit ingenieurswese.


Sy voeg by die projek versterk die NWU se leierskap in kernvelde soos mineraalbenutting, geologie, omgewing- en ruimtelike wetenskappe, sowel as ’n wye reeks professionele ingenieursprogramme. Dit strook met pres. Cyril Ramaphosa se herhaalde oproepe dat Suid-Afrika meer op mineraalbenutting fokus om werk te skep, ekonomiese veerkragtigheid te verhoog en minder afhanklik te wees van die uitvoer van grondstowwe.

Die universiteit het reeds vennootskappe in mynbou-ingenieurswese op vyf vastelande gevestig. “In fase drie van ons projek, wat in 2032 begin, sien ons ’n ten volle funksionele satellietkampus in Rustenburg,” sê Van Dyk.

Die NWU gaan akademiese programme aanbied en navorsing- en innovasieprojekte dryf wat spesifiek op die mynbou- en verwante bedrywe in die streek gerig is, sê sy.

Intussen vorder bouwerk aan die NWU Desmond Tutu-skool vir Geneeskunde flink, met die eerste groep studente wat in 2028 verwag word. Bouwerk aan dié elfde mediese skool in Suid-Afrika het op 3 Junie amptelik op die Potchefstroomkampus begin toe Tyobeka die eerste spit geslaan het.

“Die mynboukampus kan toegang tot onderrig vir behoeftiges vergroot, veral vir jongmense uit lae-inkomste-gesinne,” sê Tyobeka. Hy voeg by die inisiatief gaan nie net werk skep en vaardighede onder die jeug ontwikkel nie, maar ook mineraalbenutting in die land beduidend verbeter.

OFM Nuus/Zenande Mpame cvs

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.